Nonnie Scheppel het net na 2vm die oggend met ‘n skok wakker geskrik toe sy hoor hoe Amelia Vorster na hulle roep.
Scheppel woon in ‘n woonstel agter in die Vorsters se erf en het uitgehardloop om ondersoek in te stel. Sy het dadelik besef wat die probleem is toe sy enkeldiep in yskoue water inhardloop.
Sy sê die motorhuis is oorstroom sowel as die hele erf en die geluid van vloeiende water kon duidelik gehoor word.
Die families het begin ondersoek instel om te probeer vasstel waar die water vandaan kom en het ontdek dat daar op drie plekke direk voor die huis water uit die grond uit sypel.
Die eerste oproep na die metro noodnommer is om 2:36vm gemaak en ‘n verwysingsnommer verkry.
“Ons het geduldig probeer wag, maar het om 3:10vm besef niks gebeur nie, dus bel ons toe weer die noodnommer,” sê Scheppel.
Verskeie gesinslede het vanaf 2:36vm tot en met 7:50vm gebel om die probleem te rapporteer en drie verwysingsnommers is gegee.
“Mens raak ongeduldig want jy weet nooit of die water tot binne die huis gaan vloei nie. Gelukkig het die metro net na 9:15vm opgedaag en die gebarste pyp wat die vloed veroorsaak het, reggemaak,” sê Amelia.
Volgens die metro werkers het ‘n boom se wortels die pyp beskadig en moes hulle die wortels afsny en die pyp herstel.
Scheppel sê, ten spyte van die wag, is sy dankbaar dat die metro darem die probleem kon oplos.
Metro werkers was nog om 10vm besig en een van die werkers het die familie meegedeel dat hulle sy direkte hoof moet kontak om van die water om die huis en in die motorhuis ontslae te raak.



