Local newsNews

Twee blinde kinders wil skool toe

Blindheid gaan 'n boetie en sussie van Geduld nie onderkry nie, want hulle streef daarna om onafhanklilk te leef.

Marcel (14) en René (10) Marshall is albei blind gebore.

Die twee kinders se ouers Lottie en Tony Marshall, vertel hulle is nie seker wat die oorsaak van hulle blindheid is nie, aangesien hulle ouer kinders geen sig probleme het nie.

Marcel is in 2004 gebore en hy was om en by drie maande oud toe Lottie agterkom hy druk sy vuiste in albei sy oë.

Maar dit was nie al wat haar gepla het nie.

Hy het ook altyd sy melk opgegooi en moes in 2002 ‘n operasie ondergaan aangesien sy maagklep nie toegemaak het nie.

Lottie vertel sy het gedurende hierdie tyd gehoor haar kind is heeltemal blind en was totaal en al oorbluf met die nuus.

“Hy het die verstandelike vermoë van ‘n kind van om en by drie tot vier jaar,” sê sy.

Marcel skuifel op sy boude en kan net ‘n paar treetjies loop voordat sy bene onder hom ingee.

Hy dra ook doek aangesien hy nie volle beheer oor sy liggaam het nie.

Marcel was vir ‘n rukkie in Die Eike Kunste- en Leersentrum in Brakpan, en volgens die skoolhoof Rosie Marks, is Marcel reeds te ver agter. Dit gaan reuse insette verg om hom net selfversongend te kry.

“Hy kan al drie en vier woordsinne praat en hy gehoorsaam opdragte,” sê Rosie.

Lottie het weer swanger geraak en René is in 2004 gebore, maar groot was haar skok toe sy agterkom Rene druk ook haar vuiste in haar oogkaste.

“So moes ek toe uitvind dat René ook totaal en al blind is, maar geen verdere gestremdheid het nie,” sê sy verder.

Met twee blinde kinders is dit nie maklik nie en Lottie moes haarself leer hoe om die situasie te hanteer, sonder hulp van familie of vriende.

Met Marcel, wat die heeltyd aandag nodig het, gaan dit maar moeilik, maar gelukkig is René nie so afhanklik nie en beweeg sy gemaklik deur die huis, sonder om in iets vas te loop nie.

“Ons skuif nie graag meubels rond nie, anders val sy dalk en kry seer,” sê Lottie.

Verlede jaar het Marcel ook epileptiese aanvalle begin kry en drink is nou op die regte medikasie, wat dit redelik onder beheer bring.

Daarenteen moet hy ook ‘n tipe slaappil drink elke aand anders slaap hy glad nie en bly tot twee dae aaneen wakker.

Lottie sê dit is geweldig uitputtend, want hy is ‘n baie besige kind.

Die twee blinde kinders was vir ‘n rukkie in Die Eikeskool, maar as gevolg van finansies, kon hulle nie meer skool toe gaan nie.

Die hoof van die skool vertel toe die kinders aanvanklik by die skool aangekom het in Augustus 2013, kon René loop, maar sy het nie haar voete by ‘n deur uitgesit nie wat tipies is van blinde kinders.

Sy wou ook aan niks raak nie en het klein bietjies met haar hande geeet.

“Sy kon praat, maar met ‘n beperkte woordeskat,” sê Rosie.

Sy voeg by Marcel kon glad nie loop nie en het met sy boude aangeseil en alles wat hy in die hande gekry het, in sy mond gedruk.

Marcel kon glad nie praat nie en terapie was ‘n nagmerrie, want hy het histeries geraak as iemand aan hom vat.

Rosie sê dit is ‘n sindroom by blinde kinders dat hulle nie vreemdelinge aanvaar nie en hulle verset hulle hewiglik as iets anders gedoen word waaraan hulle nie gewoond is nie.

“Hulle gil en skrik vir vreemde teksture en nuwe reuke en slaap net op hul eie kussing,” sê sy.

Omdat die klasse by die skool klein is, het Marcel en René baie individuele hulp gekry en het albei baie goed gevorder.

Vandag gaan René sonder hulp by ‘n vertrek uit en die mondelinge werk is ‘n reuse verbetering, sy praat sonder ophou.

Alhoewel daar nog baie aan haar fyn motorise-beweging gewerk moet word sukkel sy nog om haar kop op te tel.

Haar prognose is goed en Rosie verwag dat sy opgelei sal kan word om te lees en te skryf.

Marcel kan al loop alhoewel nog met ondersteuning en gehoorsaam al opdragte.

Weens ‘n werksongeluk is die kinders se pa Tony medies ongeskik verklaar.

“Dit is baie frustrerend want ek is al die jare gewoond daaraan om te werk en nou sit ek net by die huis, dit laat my magteloos voel,” sê Tony.

Maar hy vertel dat hy baie trots is op sy vrou wat soveel opofferings maak vir hom en hul twee kinders.

Lottie kan uit die aard van die saak nie ‘n voltydse beroep beoefen nie, want die twee blinde kinders kan nie op hulle eie regkom nie.

‘n Onbekende vrou van Springs het die twee gereeld by skool gaan aflaai, maar moes dit later staak as gevolg van persoonlike redes.

Iemand anders het ook die skoolgeld geborg, maar kon dit ook later nie meer doen nie en dus is die kinders uit die skool gehaal.

Sy voeg by dat die skool ongelukkig nie die kinders van skoolfonds kan voorsien nie.

Volgens Rosie is daar soveel vaardighede wat nog nie ontwikkel is by Marcel en René en waarvoor spesifieke kundigheid nodig is, dat dit uiters noodsaaklik is dat die kinders in ‘n leersentrum moet wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button