Inwoner se passie was om ander te help
“Hy sal onthou word vir sy die vriendelike en onbaatsugtige man wat hy was.”
Die Springs Advertiser het in verlede week se uitgawe berig oor die afsterwe van Derek Brits (Derek Brits remembered as a true hero).
By die berig is ’n foto van Brits gepubliseer waarin Kobus du Toit ook verskyn. Du Toit se naam is verkeerdelik aangedui as Stoffel van Heerden.
Du Toit se familie het dit ook onder ons aandag gebring dat hy op 13 Julie op 56-jarige ouderdom aan longontsteking oorlede is.
Du Toit was geen onbekende inwoner in die dorp nie en het uit sy pad gegaan om die gemeenskap te help, sonder om enige erkenning daarvoor te verwag.
“My pa het elke jaar ’n gemeenskapprojek aangepak,” het een van sy seuns, Riaan, vertel.
Hy het gereeld ouetehuise besoek en klein geskenke uitgedeel en die inwoners met koek en tee bederf.
“Hy het ook klere versamel en kospakkies bymekaar gemaak om onder behoeftige mense uit te deel.
“Ons het verlede jaar nog saam ’n projek aangepak waar ons skoolskoene versamel het. Ons het uiteindelik 74 paar skoene aan Laerskool Brakpan-Oos oorhandig,” het Riaan vertel.
“My pa wou nooit roem hê vir dit wat hy vir die gemeenskap gedoen het nie. Hy was altyd gewillig om te gehelp waar hulp nodig was. Hy was altyd baie trots daarop indien hy iemand anders se situasie kon verander.”
Volgens Riaan was sy pa ‘n gerespekteerde steunpilaar in die gemeenskap. Hy sal onthou word vir sy die vriendelike en onbaatsugtige man wat hy was.”
Du Toit en sy vrou, Trudie, was 36 jaar getroud. Die egpaar se ander seuns is Dries en Ruan.
Hulle het ook vyf kleinkinders.
Follow us on our social media platforms:






