News

Vernedering oor sanitêre doekies laat leerder plan maak

Die Graad Ses leerder hoop om nog meer van die sakkies te kan uitdeel.

‘n Vernederende situasie tussen twee meisies oor ‘n sanitêre doekie het ‘n leerder van die Laerskool Jan Van Riebeeck besluit om aksie te neem.

Caylene Beck, wat vanjaar in Graad Ses is, het aan die einde van verlede jaar gesien hoe twee mede-leerders haaks raak.

Dit het daartoe gelei dat een van die meisies sanitêre doekies uit ‘n skooltas gepluk het en vir almal gewys het.

“Dit was vir my baie verkeerd en ek het baie jammer gevoel vir die meisie, wat onder die boelie-agtige daad gelei het,” het Caylene vertel.

“Dit is eintlik maar soos boeliery en ek hou glad nie van boelies nie,” het sy gesê.

Daar en dan het sy planne begin beraam om iets aan die situasie te doen.

Caylene se ma, Carien, het vertel dat die gesin nie wegskram van groot-word onderwerpe nie .

“Caylene weet waaroor menstruasie gaan en alhoewel daar aan haar verduidelik is dat die ‘n baie persoonlike saak is, weet sy ook dat sy nie daaroor skaam hoef te voel nie,” het Carlien vertel.

Die onderonsie by die skool het Caylene laat besluit om van haar sakgeld te spaar en met ‘n plan vorendag te kom.

“Toe ek genoeg geld bymekaar gemaak het, het ek my ouma Lizelle Crous mooi gevra om my te help om materiaal sakkies te maak wat groot genoeg is vir twee sanitêre doekies.”

Ouma Crous het dadelik aan die werk gespring en pragtige geborduurde sakkies gemaak.

Die woord Goetertjies is ook op elke kleurvolle sakkie, wat met ‘n ritssluiter toemaak, geborduur.

Cylene het reeds 85 van hierdie sakkies aan die Graad Ses groep van haar skool uitgedeel. Elke sakkie het ook twee sanitêre doekies bevat.

Caylene vertel dat dit vir haar baie lekker was om die projek aan te pak en dat sy beslis nog nie klaar is nie.

Sy en haar ma het ook mooi boodskappe van sommige van die ma’s van dogters, wat die sakkies ontvang het, gekry.

Die skool het die inisiatief ook goed ontvang.

“Ek wil kyk of ons kan voortgaan en dalk die projek self na ander skole van die dorp kan uitbrei,” het Caylene gesê.

Sy en haar jonger boetie Clayton (8) moet met alledaagse takies in die huis help om hul sakgeld te verdien.

Dit is juis van dié sakgeld wat sy gespaar het om die nodige materiaal vir die sakkies te koop.

“My ouma doen baie mooi naaldwerk en sy het hard gewerk om my te help,” het Caylene gesê.

Martie de Villiers, voorsitter van die Springs-tak van Solidariteit Helpende Hand, het van Caylene se projek te hore gekom en het groot lof vir die leerder.

“Solidariteit Helpende Hand het self ’n projek waar ons jong meisies help met sanitêre doekies (Die HelpHetta-inisiatief). Ons sal graag hande vat met Caylene en kyk hoe ons mekaar kan help,” het Martie gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button