Local newsNews

Bejandri jaag modeldrome na

Wanneer die tyd reg is, sal Bejandri vir Mej SA inskryf.

Bejandri Lourens van Strubenvale is vasbeslote om haar model drome na te jaag en is nie bang om harde werk in te sit om dit te bereik nie.

Die 21-jarige model se harde werk het vrugte afgewerp toe sy onlangs bekroon is as die algehele wenner in ‘n gewilde fotogeniese kompetisie.

Vroeër vanjaar het sy vir die Dazzling Face of the Universe ingeskryf min wetend dat sy as die wenner gekroon gaan word.

Dazzling Face of the Universe is ‘n fotogeniese kompetisie waar elkeen wat ingeskryf het se foto’s noukeurig beoordeel word om sodoende die wenner van verskeie kategorieë vas te stel.

“Ek het heeldag met my foon in my hand gesit en gewag vir die uitslae,” vertel sy.

Sy was egter verniet senuweeagtig en het nie net naam gemaak in kleiner kategorieë nie, maar ook die top titel van die kompetisie, naamlik die Ultimate Supreme Overall-kategorie opgeraap.

Die borrelende donkerkop het in 2020 aan die Hoërskool Hugenote matrikuleer maar kon nie haar laaste jaar op skool ten volle benut nie.

Covid-19 het haar planne in die wiele gery en sy moes die meerderheid van haar matriekjaar by die huis deurbring.

Sy het in 2023 haar baccalaureusgraad in Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit van Potchefstroom verwerf waar sy ook gereeld aan model kompetisies deelgeneem het.


Bejandri pronk trots met haar kroon as Ultimate Supreme Overall vir Miss Dazzling Face of the Universe.

Sy vertel sy het reeds van kleintyd af modelwerk begin doen. Sy was net ses jaar oud toe sy in haar ma se voetspore wou stap, wat self vir jare op die loopplank te siene was.

“Na my eerste model klas het ek dadelik verlief geraak daarop,” vertel sy trots.

Bejandri neem al vir 15 jaar aan modelkompetisies deel en haar modelloopbaan het lank reeds vlam gevat. Sy het in 2017 Best Model SA gewen, in 2019 was sy Mej Oos Rand Stereo en in 2022 was sy die wenner van Miss Just in Time, om net ‘n paar te noem.

Die oud-Hugie vertel hoe modelwerk haar selfvertroue oor die jare verbeter het en dat dit haar geleer het om onbaatsugtig op te tree.


Die foto waarmee Bejandri vir die fotokompetisie ingeskryf het.

Sy vertel dat sy nooit vir ‘n modelkompetisie inskryf met die doel om te wen nie, maar bloot omdat dit vir haar lekker is.

“Dit gaan vir my oor baie meer as met ‘n titel of ‘n kroon.”

Bejandri erken dat sy steeds senuagtig raak voordat sy op die verhoog klim maar wanneer sy op die loopplank is dat die senuwees verdwyn en sy op haar gemak voel.

Sy droom groot en het verskeie doelwitte wat sy nog wil bereik. Bejandri vertel dat sy eendag vir Mej SA wil inskryf wanneer die tyd reg is.


ALSO CHECK: Dedicated educator bids farewell to teaching


“Daar is baie harde werk en voorbereiding wat daarin moet gaan, wanneer ek voel ek reg is, sal ek beslis inskryf.”

Sy beoog ook om ‘n professionele redaksionele model te word waar sy die nuutste ontwerpe van ‘n modeontwerpers op die loopplank vertoon.

Nog ‘n groot droom wat sy gehad het was om haar eie model skool te begin en vanjaar het dié droom ‘n realiteit geword. Sy is vasbeslote om jong modelle onder haar vlerk te neem en hulle touwys te maak.

“Ek hoop om ‘n merk te los in die model industrie en om ‘n voorbeeld vir ander te wees. Ek wil iemand wees waarna meisies kan opkyk en kan sien as ‘n voorbeeld.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button