Local newsNews

Wright Park inwoners boos oor metro se gesloer

Dié reuse krater is voor sommige inwoners se huise geleë.

Wat eers as ‘n klein waterlek identifiseer is, het oor die afgelope paar maande vir die inwoners van Wright Park in ‘n reuse kopseer verander.

“Ek vrees vir die dag wat ons ‘n kind se lyk onder in hierdie gat gaan ontdek.”

Dit is die bekommerende woorde van Riaan Steenkamp (54), inwoner en ondervoorsitter van Wright Park se uitvoerende komitee.

Die hoof ingang van dié woonbuurt is al vir maande onbruikbaar weens die gebrek aan dienslewering en dit laat baie van die inwoners erg gefrustreerd. Aan die einde van verlede jaar is daar ’n klein waterlek in Orrstraat opgemerk en aangemeld.

Volgens inwoners het daar slegs ’n klein straaltjie water uitgespuit en is dit glo, sonder veel sukses deur die munisipaliteit herstel. Water het, volgens inligting, slegs enkele dae later, weer daaruit gestroom.

“Die pad het soos ’n rivier gelyk. Werknemers van die Stad van Ekurhuleni het uitgekom, ’n gat kom grou en dit net so gelaat vir maande,” het Riaan aan die Advertiser vertel.

Inwoners het self ingespring en dié gevaarlike gat afgebaken. Ongeveer ’n maand nadat die gat so gelaat is, sonder enige poging om dit te herstel, het inwoners van die woonbuurt weer ’n klag by die munisipaliteit aangemeld.

Dit is toe die metro dié reuse krater kom grou het en die grondmassa voor die inwoners se opritte gestort het. Volgens inwoner Elmha Duvenhage (45) is daar ook ’n sterk riool reuk waarmee sy daagliks opgeskeep sit.

“Die stank ondraaglik en baie onhigiënies. Ek is gatvol vir die Grand Canyon hier op my voorstoep,” het sy vertel.

“Ek is nie tevrede oor wat hier aangaan nie, hierdie plek het nog nooit so gelyk nie,” het Riaan gesê.

Dié reuse krater is voor sommige inwoners se huise geleë, wat daartoe lei dat hulle nie toegang tot hul opritte het nie en hul motors by die bure moet parkeer.

“Ons het dit al verskeie kere by die Ekurhuleni metro aangemeld maar al wat ons kry is ’n verwysingsnommer en geen diens nie,” het ‘n ontstelde Chrizelle van der Mescht (42) vertel.

Sy kyk daagliks in die modder massa vas. Chrizelle glo die munisipaliteit se ledigheid is as gevolg van ‘n tekort aan belangstelling dat hulle nie eers poog om die gemors reg te maak nie.

Nie net is die inwoners ongelukkig oor die diens wat die metro lewer nie, maar weens die feit dat die hoofingang een reuse gat is, het dit daartoe gelei dat die res van die woonbuurt se paaie vol slaggate is omdat die inwoners alternatiewe roetes moet gebruik.

Die Stad van Ekurhuleni het gereageer op ‘n versoek vir kommentaar oor die probleem en het die volgende in ‘n media verklaring gesê:

Die eerste klagte is inderdaad ‘n paar maande gelede aangemeld. Daar is egter aandag gegee aan die aanvanklike klagtes en ander wat daarop gevolg het.

Die eerste paar lekkasies (tot ongeveer ses) is reggemaak, maar omdat die staalpyp verweer is, het dit aanhou lek langs die herstelde lekkasies nog voordat die aanvanklike sloot weer opgevul kon word.


Na maande se gesloer is inwoners Elmha Duvenhage en Chrizelle van der Mescht raadop.

Dit mag voorkom asof daar net een lekkasie was maar die realiteit is dat daar baie verskillende lekkasies rondom dieselfde pyp was. Daar is toe besluit dat die gedeelte van die pyp vervang moes word om toekomstige herstelwerk te vermy.

Nadat die befondsing verkry is, is die diensverskaffer opdrag gegee om die vereiste materiaal te begin bekom.

Weens die aard en grootte van die werk en pyp was die materiaal nie geredelik beskikbaar om dadelik te begin nie. Werk het ‘n aanvang geneem toe die materiaal beskikbaar geraak het.

As gevolg van tegniese uitdagings, wat tydens die werk ondervind is, moes bykomende aanleg bygevoeg word wat vertragings in die werk veroorsaak het.

Die pyp is nou vervang, en die lek is reggemaak. Beplanningswerk aan ander geaffekteerde dienste soos riool en stormwater is aan die gang. Dit het ‘n groter projek geword as wat aanvanklik verwag is, maar die proses is aan die gang om die werk te voltooi.



LEES OOK: Exploring science: A day of discovery at Enderun College

LEES OOK: EMPD urges compliance by scholar transport operators

Related Articles

 
Back to top button