Local newsNews

Blink toekoms wag op vroue rugbyspeler

Daniella droom daarvan om eendag ons land in die groen en goud te verteenwoordig.

Om ‘n kontaksport te speel wat volgens die samelewing net vir mans bedoel is, sit nie in enige meisie se broek nie.

Daniella Matthee het nie ‘n bang haar op haar kop nie en skroom ook nie om stof in die manne se oë te skop nie.

Hierdie 16-jarige rugbyspeler het onlangs naam vir haarself gemaak toe sy en haar span vanjaar se Leeus IPT toernooi gewen het.

Dit was nie net die tweede jaar wat sy vir dié span gekies was nie maar tot haar verbasing, was sy ook as kaptein aangewys.

Dit was egter nie die eerste keer wat sy die skoene van kaptein moes volstaan nie. Sy was in die verlede die o9-rugbyspan kaptein van Brakpan Rugbyklub maar sê sy het nou baie meer selfvertroue om ‘n span te lei.

“As kaptein glo ek ‘n span moet saam oor dinge praat voordat daar besluite geneem kan word,” het Daniella gesê.

“My span het my ten volle vertrou op die veld en ek glo dit is wat gemaak het dat ons met die IPT beker weggestap het,” vertel sy trots.

Daniella sê sy is ook nie bang om seer te kry nie. Dit was egter nie altyd die geval nie maar volgens haar het sy geleer om haar alles te gee totdat die eindfluitjie blaas.

“Ek het vanjaar tydens die eerste wedstryd van die IPT my vinger gebreek maar dit het my nie gestop nie. Inteendeel het dit my net motiveer om aan te hou totdat ek ‘n drie in die finale wedstryd gedruk het.”

Hierdie kranige sportvrou is ‘n Graad 10 leerder aan die Hoërskool Hugenote. Sy speel tans vir Alberton Rugbyklub omdat dit ‘n klub is wat goeie voorbereiding het vir meisies en vroue rugby probeer bevorder.

Daniella draf gewoonlik in die nommer agt trui uit en erken sy geniet dit om agsteman te wees.


Daniella Matthee saam met die onderkaptein van die IPT span, Omolemo Legwase.

“Ek hou daarvan om opsies op die veld te hê en as agtsteman is jy los in die skrum en tussen beide die voor- en agterspelers.”

Sy speel rugby al vanaf negejarige ouderdom en het met rugby grootgeword omdat haar gesin baie rugby georiënteerd is en omdat dit haar al vroeg in haar lewe aangetrek het.

“My pa se kennis oor rugby en die geskiedenis daarvan is asemrowend en dit het my selfs net nog meer aangetrek.”

Haar broer CJ (17) speel ook rugby en Daniella erken dat sy meeste van haar vaardighede by hom geleer het.

Daniella se passie vir rugby is groot maar volgens haar verg dit baie dissipline en uithouvermoë. Sy erken sy kry nog baie kommentaar wat daarop dui dat meisies nie veronderstel is om rugby as sport te beoefen nie maar sê ook dat dit haar net motiveer om harder te werk.


LEES OOK: Hugenote skoolhoofde besin oor jare se toewyding


“Daar is baie struikelblokke wanneer dit by rugby kom en as mense ophou om na meisierugby kyk en te sê dat ons soos seuns probeer wees, sal dit ook beter gaan.

“Ons weet dat ons nie op die seuns se vlak kan speel nie en ons probeer ook nie; ons geniet bloot net die sport en wil graag deel hê daarvan.”

Sonder om twee keer daaroor te dink erken Daniella dat sy ‘n groot All Blacks ondersteuner is. Sy bewonder die Nieu-Seelandse rugbyspeler, Michaela Blyde wat haar elke dag inspireer om ‘n beter atleet te wees.

“Wanneer ek na haar kyk is ek verstom oor hoe niks haar op die veld afskrik nie en sy gee wedstryd na wedstryd net haar alles, maak nie saak wat nie. Sy is vir my ‘n baie groot inspirasie,” het Daniella vertel.

Haar raad aan ander meisies wat ook in rugby belangstel is om te aanvaar dat daar altyd iemand gaan wees wat iets wil sê. Maar sy moedig meisies aan om hulle harte te volg en te doen wat hulle gelukkig maak.

Daniella droom groot en beoog om eendag ons land in die goud en groen te verteenwoordig.

“Rugby laat my lewendig voel en ek gaan elke geleentheid aangryp om myself te verbeter en so ook my loopbaan te bevorder.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button