Oud-polisieman en gemeenskapsleier oorlede
Ben se gedenkiens is op 9 Januarie in die Woord en Lewe kerk te Boksburg gehou.
‘n Bekende oud-polisieman, Barend Fourie, bekend as Ben, is kort na nuwe jaar in die ouderdom van 67 aan ‘n hartaanval oorlede.
Ben is in Lichtenburg gebore waar hy ‘n groot deel van sy grootword jare deurgebring het. Die Fourie gesin het gedurende sy skoolloopbaan na Springs verhuis.
Hy het in 1976 aan die Hoërskool Hugenote matrikuleer en was glo kort voor sy afsterwe steeds in kontak met van sy klasmaats. Hy het die beroep van polisieman aangepak omdat hy vanaf ‘n jong ouderdom ander wou help.
Vir jare het hy by die destydse SAPS Diamante en Goud-tak in Springs gewerk en later na die Germiston tak geskuif.
Met tyd het hy homself opgewerk en as ‘n superintendent uitgetree. Deur die jare was hy ook betrokke by die gemeenskap.

Hy was nie net die openbare verhoudingsbeampte van die Dal Fouche gemeenskapsvereniging nie, maar ook betrokke by die stigting daarvan meer as ‘n dekade gelede.
Ben was ‘n geliefde man, pa en oupa. Hy laat sy vrou, Nicky (67), twee dogters, Melissa (42) en Rachelle (39), en drie kleinkinders agter. Ben en Nicky was vir 47 jaar woonagtig in Dal Fouche.
“Hy was die tipe man wat jy twee uur die oggend kon bel en hy sal sy selfoon antwoord en jou help. Hy het nie net respek en liefde van sy familie gehad nie, maar ook van sy vriende, kollegas en gemeenskap,” sê Rachelle.
“Ek gaan sy teenwoordigheid, wysheid, kennis, die ‘dad jokes’ en sy lag vreeslik mis. Ook die feit dat hy altyd alles net beter gemaak het en enige negatiewe situasie positief kon verander.”
‘n Gedenkdiens is op 9 Januarie in die Woord en Lewe kerk in Boksburg gehou.
LEES OOK: Geliefde dokter se afsterwe laat groot leemte
LEES OOK: Springs Muslim School beams with pride



