Local newsNews

Nuwe gesig by Helpende Hand bring reeds sy kant

Tienie Engelbrecht en sy verloofde is beide lief vir liefdadigheid.

Dal Fouche inwoner, Tienie Engelbrecht het aan die einde van 2024 aangesluit by die Solidariteit Helpende Hand Brakpan-tak en het die oorhandiging van skooltasse behartig vir die organisasie se tassie projek.

Die tassie projek verskaf tasse en skryfbehoeftes aan behoeftige leerders in Graad Een.

Die voormalige grafiese kunstenaar by die Springs Advertiser (Caxton) met 46 jaar diens agter die rug, is baie betrokke by liefdadigheid.

Vir Tienie is dit belangrik, omdat hy self uit moeilike omstandighede kom; om vir ander te gee wat hy wens iemand vir hom kon gee as kind.

Sy verloofde, Lizette Klopper, sê: “Dit is vervullend om te gee. Selfs al het jy niks van materiële waarde om te gee nie is ‘n drukkie dikwels genoeg.”

Tienie en Lizette is albei deur moeilike tye met hul vorige lewensmaats wat oorlede is – Tienie se vrou aan kanker en Lizette se man aan ‘n hartaanval. Albei het hulself redelik afgesonder, en was baie depressief tot hulle mekaar ontmoet het.

Tienie vertel hoe hy net in sy meenthuis gesit en lees het, en niks anders nie. Hy het so gereeld vergeet om te eet gedurende daardie tyd dat hy aansienlik gewig verloor het.

Toe die twee by mekaar begin kuier, en later by mekaar intrek, het hulle besluit om die beste te maak van die lewe.

“Môre is jy dood, en dan het jy nie eens gelewe nie. Die lewe het ons gekies, en ons het weer kans gekry om deur alles te werk. Dis hoekom ons so goed by mekaar pas; ons verstaan en dra mekaar se seer,” sê Lizette.


Lizette Klopper en Tienie Engelbrecht hou daarvan om vertonings by te woon.

Tienie was een van sewe kinders, en wou altyd as kind so graag hê iemand moet net uitreik en vir hom ‘n roomys of koffie gee.
Nou reik hy uit om die mens te wees wat hy nodig gehad het as kind.

“Ek het so grootgeword dat ek heel moontlik as bedelaar op straat sou opeindig, maar ek het van dag een af besluit ek gaan iets beteken vir ander.”

Hy het sy omstandighede omskep in ‘n goeie lewe, en wil die katalisator wees vir iemand anders om dieselfde te doen.

Tienie sien homself in veral die kinders wat hy help met sy liefdadigheid. Somtyds as hulle kos oorhandig sal hy waarneem dat hulle gewoonlik net die helfte eet, en die res bêre vir hulle families.

Ander kere, as hy tonne vrugte aflaai by ouetehuise, sal hy met ‘n seer hart hoor by ‘n bejaarde vrou hoe sy gewonder het wat om te koop met haar laaste R20. Toe hy ‘n vrag mango’s aflaai het sy besluit op roomys om saam met haar mango’s te eet.

Sy filosofie is om nooit met ‘n toe hand te gee nie. Sy broer het altyd aan hom gesê om nooit met ‘n toe hand te gee nie, of met ‘n verwagting dat jy iets terug sal kry nie.



LEES OOK: Springs Clinic receives donation

LEES OOK: The tale of netball and two sisters

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button