KYK: Chaos oor Sassa kaarte bedaar
Talle Sassa toelae-ontvangers is frustreerd omdat daar slegs twee verspreidingspunte in Springs is.

Honderde mense wat Sassa toelae ontvang moes verlede week noodgedwonge in elle lange rye staan met min tot geen sukses.
Dít volg nadat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) vroeër vandeesmaand aangekondig het dat die goue Sassa-kaarte eersdaags gaan verval en spoedig met Postbank se nuwe swart kaarte vervang moet word.
Hoewel die uitreikingsproses van die nuwe kaarte na bewering reeds verlede jaar in September begin het, het duisende mense steeds nie die nuwe kaarte ontvang nie.
Begunstigdes moes aanvanklik voor die sperdatum van 28 Februarie van die ou Sassa-kaarte na die nuwe Postbank-kaarte oorskakel om hul maandelikse toelae vir Maart te ontvang.
Die oorspronklike Sassa-kaarte sal dus ongeldig wees vir enige transaksies.
LEES OOK: Stopteken by besige kruising weer verwyder
Dít het tot groot paniek gelei met begunstigdes wat vrees dat hulle hul toegang tot broodnodige toelaes gaan verloor.
Talle begunstigdes het verlede week vir etlike ure in rye gestaan by Springs se Sassa-kantoor en groot kleinhandelaars soos Checkers.
Die beperkte aantal verspreidingspunte is een van die grootste redes waarom toelae-ontvangers in hierdie elle lange rye moet staan.
Die Advertiser het Vrydag besoek aan Spring Mall afgelê en kan bevestig dat honderde gefrustreerde begunstigdes vir ure in rye gestaan het. Sommige van die mense het reeds ‘n dag of twee in die einste ry deurgebring net om teen toemaaktyd weggewys te word.
Een van die vroue wat al vir twee agtereenvolgende dae in die ry gestaan het, meen dat dit onregverdig is om almal in een ry te laat staan omdat bejaardes en gestremde mense nie onder dieselfde kam geskeer kan word nie.
@springsadvertiser Talle begunstigdes het hulle Valentynsdag in hierdie ry deurgebring. #sassa #gauteng #homeaffairs #Ekurhuleni
Dié winkelsentrum het egter stoele by Checkers se ingang geplaas waar ‘n handjievol mense kan sit, terwyl die res van die mense vir ure aaneen in die gang moes staan.
Intussen het die regering aangekondig dat die sperdatum van 28 Februarie na 20 Maart verleng is.
Dit bring verligting vir duisende mense en die Springs Advertiser kan bevestig dat die miernes van bedrywighede teen Maandagoggend heelwat bedaar het.
Met ‘n vroeë oggend besoek aan Checkers by die Springs Mall was daar geen mense, wat kaarte wou ruil, te bespeur nie, in sterk kontras met die chaos wat nog Vrydag geheers het.
LEES OOK: Ekurhuleni residents assured of continuous power supply