Nuwe skoolhoof vir Hoërskool Hugenote
Sy visie vir die skool is om 'n gebalanseerde benadering te handhaaf in die skool se groei en innovasie.
Die Hoërskool Hugenote het onlangs sy nuwe skoolhoof, Jaques Moorcroft (37), verwelkom. Met entoesiasme en ‘n sterk visie vir gebalanseerde groei en innovasie, sien hy uit na die volgende hoofstuk van sy loopbaan in onderwys.
Moorcroft, ‘n inwoner van Vanderbijlpark, sê die daaglikse rit is die moeite werd, aangesien hy glo die Oos-Rand huis is vir van die beste skole.
Hy het self in Vanderbijlpark grootgeword, waar hy eers aan Laerskool Frikkie Meyer en daarna Hoër Tegniese Skool Carel de Wet skoolgegaan het.
Sy BEd-graad in senior fase-onderwys, asook sy Sentrale Onderwyserskwalifikasie (SET), het hy aan NWU Vaal verwerf. Met 14 jaar se onderwyservaring agter sy naam, het hy fisiese wetenskappe en wiskunde aangebied by sy alma mater, waar hy later ook as adjunkhoof gedien het.
Buiten die akademie is hy diep betrokke by sport: hy reël atletiek, rugby en krieket by die skool, het klubrugby afgerig en self gespeel, en het in 2022 en 2023 die Valke se o.16-spanne afgerig. In 2023 het hy ook die Vereniging se o.21-klubrugbyspan afgerig.
LEES OOK: Ekurhuleni’s Pothole Repair Blitz restores over 50km of roads
Vir Moorcroft is dit lekker en uitdagend om skoolhoof te wees.
“Daar is altyd los drade, maar ek sien dit as deel van die uitdaging wat my gemotiveerd hou. Die aanvaarding van die pos as hoof sien hy as die hoogtepunt van sy loopbaan tot dusver. Dis lekker om daagliks met die personeel, leerders en gemeenskap te werk,” voeg hy by.
Hoewel hy nie een spesifieke groot laagtepunt kan uitlig nie, erken hy dat die werwing van borge en finansiële ondersteuning uitdagings inhou. Tog sien hy dit as geleenthede om kreatiewe oplossings te vind en blywende verskille te maak.
Moorcroft se visie vir Hoërskool Hugenote sluit die behoud van tradisie, voortdurende verbetering, innovasie en die kweek van ‘n veilige, inklusiewe en waarde-gedrewe leeromgewing in. Hy glo in realistiese en haalbare doelwitte, en streef daarna om die balans tussen verwagting en uitvoering te handhaaf.
Op persoonlike vlak is hy dankbaar dat hy nog albei sy ouers het, asook ‘n ouer broer en jonger suster. Hy is al 11 jaar getroud met sy vrou, Le-Jainé (33), en saam het hulle twee kinders: Ayden (16) en Nihané (3).
“Ek het ook ‘n wonderlike skoonfamilie wat baie ondersteunend is, en ons hegte familiekring is vir my ’n bron van inspirasie en balans in my professionele lewe,” sê hy.
LEES OOK: Edelweiss resident claims city failed to fix damage after contractor repairs leak



