Local newsNews

Jong redenaar van Laerskool Jan van Riebeeck beïndruk by ATKV-finaal

Dié graad vyf-leerder van Laerskool Jan van Riebeeck, het haar merk gemaak by die ATKV-redenaars landsfinaal in die Kaap waar sy negende plek in haar afdeling verower het.

Aljoné Luüs (10), ’n Graad vyf-leerder van Laerskool Jan van Riebeeck, het onlangs aan die ATKV-redenaars landsfinaal, wat by Goudini Spa in die Kaap plaasgevind het, deelgeneem.

Aljoné was die enigste laerskoolleerder in die Gauteng-Oos-distrik wat die finaal gehaal het, in die graad vier tot vyf Afrikaans Huistaal-afdeling, waar sy ’n negende plek uit 25 deelnemers behaal het.

Dié talentvolle jong redenaar woon saam met haar ouers, Bertie en Elizma Luüs, en haar jonger sussie, Lizanri (6), in Petersfield Uitbreiding.

Dit was die eerste keer dat sy aan die landsfinaal deelgeneem het en sy is vergesel deur haar pa, Bertie, wat ook gehelp het om haar toespraak te skryf. Die tema van haar toespraak was ‘Alternatiewe musiek is nie die vloek van die kitaar nie’.

Sy het geredeneer dat alternatiewe Afrikaanse musiek, soos dié van Van Coke Kartel, Spoegwolf en Karen Zoid, positiewe gevolge vir die mens inhou.


LEES OOK: Pensioners are living in sewage as drainage crisis drags in Selection Park


Die drie argumente wat sy uitgelig het, was dat dit algehele welstand bevorder, ’n kultuurbewustheid skep en inkomste genereer.

Aljoné vertel dat sy ’n bietjie gesukkel het met die vraag wat aan die einde deur die beoordelaars aan haar gevra is, maar dat die hele ondervinding vir haar baie lekker was.

“Volgende jaar (in die graad 6 tot 7-afdeling) is daar saam met die voorbereide toespraak ook ’n onvoorbereide afdeling, so ek sal fokus op die onvoorbereide, sodat ek daarin ook goed kan doen,” vertel sy.

Sy sê ook dat haar familie haar steunpilaar is en haar in alles wat sy aanpak ondersteun. Aljoné vertel dat sy drama en dans geniet.

Sy neem deel aan akro-gimnastiek, waarin sy voorheen aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem het. Tog bly drama haar gunsteling.



LEES OOK: 16 drug peddlers, including 4 illegal immigrants, taken off Ekurhuleni streets

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button