CrimeLocal newsNewsUpdate

KYK: Hartseer afskeid vir jong Waldo Verwey wat in Casseldale geskiet is

Trane het gevloei toe familie, vriende en belangstellendes vandag (Donderdag) afskeid geneem het van die 11-jarige Waldo Verwey, wat vroeër vandeesmaand in Casseldale geskiet is.

Ongeveer 50 familie en vriende het vanoggend (Donderdag) afskeid geneem van die 11-jarige Waldo Verwey, wat op 2 Oktober by die huis in Casseldale, waar hy onder pleegsorg was, geskiet is.

Die diens het op versoek van Waldo se biologiese ma, Lindie Burger, stiptelik om 9:22 begin. Lindie, haar verloofde, Emile Langenhoven en Waldo se jonger boetie, Logan (10), het die Jesus is Lig Kerk in Eastvale binne gestap met ’n houtkissie met Waldo se oorskot.

Lindie, wat in ’n wit en swart uitrusting geklee was, is deurentyd deur Emile ondersteun. Pastoor Ruan Maree het ’n kragtige boodskap gelewer en gesê dat mense waarskynlik meer vrae as antwoorde het.

“Vandag sal vir baie mense voel asof hulle op ’n emosionele `roller-coaster’ is, maar dit is eintlik ’n baie spesiale dag,” het Maree gesê.


Waldo se biologiese ma, Lindie Burger het een van die duiwe laat vlieg. Sy is deur haar verloofde, Emile Langenhoven onderseun. Foto: Stacy Slatter

“Waldo het hierdie geleentheid geskep sodat mense weer bymekaar kan kom, en ek glo hy sou wou hê dat ons hom vandag moet vier vir die kind wat hy was.

“Hy was ’n oulike kind wat mense se lewens aangeraak het en ook verskeie mense se lewens gered het deurdat sy organe geskenk is.

“Hierdie klein seuntjie het meer mense se lewens aangeraak as sommige mense wat 80 jaar oud is.”

Past Maree het die mense wat teenwoordig was ook aangemoedig om aan te hou om mekaar en veral Waldo se geliefdes te ondersteun.


@springsadvertiser

Ongeveer 50 familie en vriende het vanoggend (Donderdag) afskeid geneem van die 11-jarige Waldo Verwey, wat op 2 Oktober by die huis in Casseldale, waar hy onder pleegsorg was, geskiet is.

♬ original sound – Springs Advertiser – Springs Advertiser


Terwyl ’n skyfievertoning getoon is en ’n spesiale lied, wat aan Waldo opgedra is, gespeel het, het harde snikke opgeklink in die groot kerk.

Logan se gesiggie het telkens opgehelder as hy ’n foto van homself en sy boetie op die skerm gesien het.

Nadat die familie en vriende die geleentheid gekry het om roosblare op Waldo se kissie te plaas, is ’n erewag gevorm wat gelei het na ’n hokkie waaruit vier duiwe vrygelaat is.

Waldo se ma, Lindie, wat emosioneel was maar kalm voorgekom het, het na afloop van die diens gesê dat sy juis vandag (Donderdag) gekies het om van Waldo afskeid te neem.


Geraamde foto’s van Waldo Verwey (11) was voor in die kerk geplaas by de houtkissie wat sy oorskot bevat het. Foto: Thelma Koorts

“Waldo is op ’n Donderdag geskiet, hy is op ’n Donderdag dood verklaar, ons het sy liggaampie op ’n Donderdag gaan haal, en hy is op ’n Donderdag begrawe,” het Lindie gesê.

“Dit is hoe ek dit wou gehad het. Ek wou ook gehad het dat die diens om 9:22 begin, omdat dit die tyd was wat my kind oorlede is.”

Waldo was saam met Logan by ’n huis in Casseldale toe die skietvoorval plaasgevind het. Hy is per helikopter na die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg vervoer, waar hy ’n week later, op 9 Oktober, oorlede is.

Verskeie van sy organe is geskenk, en volgens Lindie sou Waldo dit presies so wou gehad het. Sy het in ’n vorige onderhoud met die Springs Advertiser gesê dat haar kind ’n vriendelike kind was wat baie vir ander omgegee het.
Die polisie se ondersoek na die skietvoorval duur voort.




ALSO READ: UPDATE: Casseldale boy in critical condition following shooting

ALSO READ: WATCH: Springs community rallies for 10-year-old shot in house robbery

ALSO READ: UPDATE: Family confirms death of 11-year-old shooting victim

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button