Local newsNews

So word Kersfees by ‘n kinderhuis gevier

Die maatskaplike werker van die East Rand Children's Haven verduidelik hoe die kinders hul feesseisoen deurmaak.

Maxine Smook, die maatskaplike werker by die East Rand Children’s Haven, het verduidelik hoe die kinders van die kinderhuis Kersfees vier.

“Kersfees by die kinderhuis moet vir ons kinders net so spesiaal wees soos in enige gesin,” het Maxine verduidelik.

“Hierdie huis is nie net ’n dak oor hulle koppe nie, dit is ’n plek waar hulle herinneringe bou wat hulle saam met hulle sal dra wanneer hulle volwasse is.

“By ons begin Kersfees reeds in Oktober, wanneer ons wonderlike weldoeners en donateurs dae vol vreugde vir die kinders beplan.

“Dit sluit in braaie, geskenke, Kersvader, uitstappies en selfs springkastele waarin die kinders kan spring en lag tot hulle moeg is.

“Wanneer die skool sluit, het sommige kinders die opsie om by geskikte familie of ‘vakansievriende’ te wees. Vakansievriende is mense in die gemeenskap wat ’n kind saam met hulle eie gesin wil bederf.

“Om vakansievriende te word, moet daar ten minste vier tot ses maande voor die tyd aansoek gedoen word; daar is ’n keuringsproses en die gesin en kind moet mekaar eers ’n bietjie leer ken.

“Hierdie proses help ons om seker te maak dat die kind liefde en sorg sal ontvang en ’n veilige, gelukkige Kersfees sal hê,” het Maxine gesê.

Nie alle kinders word uitgeplaas nie, en sommige kinders bly by die kinderhuis vir Kersfees.

“Personeel maak opofferinge van hul eie tyd om by die kinders te wees. Saam deel hulle ’n heerlike ete, swem en speel hulle, en sommige geniet kosbare besoektyd met hulle families. Ons poog om vir elke kind herinneringe te skep wat hulle vir altyd sal koester,” sluit sy mee af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button