VLU-lid deel resep vir beesbinneboud met kaas en sampioensous
Die resep, van 'n lid van die Springs se Carpe Diem VLU tak, is die perfekte maaltyd vir 'n feestelike ete.
Marie Bouwer, ‘n lid van die VLU Carpe Diem-tak in Springs, het haar resep vir beesbinneboud met kaas en sampioensous met die Springs Advertiser gedeel. Die maaltyd is perfek vir ‘n hoofgang.
Boud
Die boud is eenvoudig om te maak en verg net ‘n beesbinneboudstuk, Bovril of Marmite, en water.
• Meng ‘n opgehoopte eetlepel Bovril of Marmite met twee koppies warm water.
• Gooi die watermengsel in ‘n oondbak met ‘n deksel, en voeg die boud by. ‘n Boud van twee tot drie kilogram word aanbeveel.
• Bak die boud teen 150°C vir drie ure.
• Haal die vleis uit die vloeistof, laat dit afkoel en sit dit vir ‘n paar uur in die yskas. Sny daarna in dun skywe.
Sampioensous
Die sous is die ingewikkelde gedeelte van die resep.
Bestandele
• Een eetlepel tamatiepasta.
• Een blikkie sampioenstukke.
• Een koppie cheddarkaas.
• Een pakkie sampioensop.
• Melk.
• Twee uie.
• ‘n Knoffelhuisie.
• Sout en peper na smaak.
Instruksies
• Braai die twee uie, opgekap, en voeg sout en peper by met die knoffelhuisie, opgekap.
• Maak die sampioensop pakkie aan met helfte van die vereiste hoeveelheid melk op die pakkie, en die oorskiet boudwater.
• Voeg die sampioensous by die uiemengsel, saam met die tamatiepasta, sampioenstukke en kaas. Meng deeglik.
Bediening
Om die boud en sous te bedien, pak die vleis in ‘n oondbak in lae, met die sous tussen elke laag vleis. Hou dit bedek in die yskas oornag, en so ’n uur voor die ete sit die bak in die oond om die vleis en sous warm te maak.



