BlogsOpinion

Moord en doodslag

Met al die gebeure wat die laaste week in Springs plaasgevind het, is dit moeilik om te begryp hoe die families van die onwettige myners wat vermoor is moet voel.

Dit is moord en doodslag soos die verskillende kultuurgroepe ‘oorlog’ verklaar teenoor mekaar en dit net oor grond wat nie eers aan hulle behoort nie.

Tydens my besoek aan die een man se vrou en dogtertjie van drie, het ek skaamteloos my arms om die mamma gegooi en haar vertroos.

Al was dit nie haar keuse dat haar man ’n onwettige myner was nie, voel sy broos en magteloos.

Die hartseer en woede ten opsigte van die moord op haar man is duidelik sigbaar op haar gesig.

Sy vertel my dat haar man onlangs moes kies tussen twee groepe onwettige myners, wat almal sy ‘vriende’ geword het.

Omdat hy nie wou kies en gevoelens seermaak nie, het hy besluit om homself liewer te onttrek.

Dit het hom sy lewe gekos.

Die ma kan berading ontvang en met tyd sal die pyn verminder en selfs die verlange omdat sy nog jonk is, maar wat van die arme dogtertjie?

Sy is maar net drie jaar oud en haar pa is voor haar doodgeskiet.

Wat sê ’n mens vir ’n kind van drie? “Alles sal ok wees, byt net vas, jy sal oor dit kom of selfs tyd sal genees?”

Nee wat, geen van hierdie woorde het by my opgekom nie en ek kon net na haar kyk met ’n diepe heimwee.

As sy nie so verskrik gelyk het nie en Afrikaans of Engels kon verstaan, sou ek tien teen een ’n simpatieke woord kon uiter, maar my hart was so verskriklik seer vir hierdie kind.

Sy het slapelose nagte oor die gebeure en huil kort-kort onbedaarlik.

Gelukkig is haar ouma en oupa daar om haar te vertroos en die ma by te staan.

Die kind het definitief berading nodig en omdat ek in kontak bly met hulle, verneem ek dat sy drie dae na die insident vir berading gegaan het.

Dit was wonderlik om te hoor dat sy uiteindelik een aand regdeur geslaap het.

Hoe wreed is die mens nie dat hulle geen gevoel het vir ’n kindjie nie?

Die arme kind se pa het haar nog probeer beskerm teen die aanvallers.

Ek dink dit is net iemand wat alreeds ’n geweer teen die kop gehad het, wat sal verstaan wat hierdie kind beleef het.

Met genade van Bo en hul kerk lidmate sal die kleuter se wond genees, maar die merk wat dit op haar lewe gaan nalaat sal altyd daar wees, daar waar niemand dit kan sien nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button