
Dit is die werk wat ons doen wat ons soms na vreemde plekke, met vreemde, eienaardige mense, neem.
Daar is seker verskeie ervarings, goed of sleg, wat joernaliste kan deel, dit is nou indien hulle graag wil.
So kan ek ook ’n paar interessante kronkelpad verhale deel.
Een van my eerste ondervindings was ’n man wat my ‘hel’ toe gestuur het en terug, met nog so ander paar onwelvoeglike woorde wat goed opgevoede mans nie veronderstel is om voor ’n dame te gebruik nie.
Dan was daar ’n vrou wat, twee jaar na haar pa se dood, vir my sê ek staan onsimpatiek teenoor haar pyn omdat ek geen idee het hoe dit voel om iemand, so na aan jou, aan die dood af te staan nie.
Mag ek net noem dit was nie eers ’n maand na my dogter se begrafnis nie, maar ter versagting, sy het nie geweet nie.
Om nie te praat van die mans wat agter ’n telefoon skuil om hul opinie te lig oor hoe onbevoeg ons nou eintlik is, in ’n taal wat nie geskik is vir ’n gemeenskapskoerant nie.
Maar niks kan vergelyk word met my onlangste ondervinding nie.
So ontvang ek ’n oproep van ’n vrou wat na haarself verwys as ’n dokter, maar nie verduidelik waarin sy spesialiseer nie.
Gretig om na haar storie te luister, besluit ek om haar te besoek.
As Christen maak ek ook gebruik van elke moontlike oomblik om van my Verlosser te getuig, soos wat ek gelei word om te doen, maar hierdie gesprek het my totaal en al onkant betrap.
Heeltemal onbewus van waarheen die gesprek sal lei, word ek gevra of ek erken dat Here die meervoud is van Heer.
“Natuurlik is dit,” antwoord ek, heel beskermd deur die wapenrusting.
“Dan sal jy dus met my saamstem dat die woord Here nie in die Bybel hoort nie, want Javeh, wat Ek beteken is glo in 1902 deur ’n sekere Du Toit man uit die Bybel verwyder,” sê sy.
Hierdie Du Toit het glo die Bybel vertaal in daardie tyd, maar die Bybel is eers amptelik in 1933 vertaal, volgens my kennis.
Dus verduidelik ek dat God self Here is omdat Hy in die Ou Testament sê “Ek is die Here jou God wat jou uit slawerny…” en dan in die Nuwe Testament word daar verwys na Jesus Christus as ons Here.
Nog is het einde niet, die vrou beur met alle mag om my te probeer intimideer met haar “roeping”, wat sy 30 jaar gelede ontvang het, dat sy ons land moet red en dat ons almal een “god” sal aanbid.
“Gaan dit voor of na die wederkoms wees?” vra ek.
“Binnekort,” sê sy, “want daar is ’n sekonde se verskil in tyd tussen God en Lucifer.”
“Wow, regtig?” vra ek ewe kordaat, “ek weet ons Here is ’n ware Heer.”
En hier kom my Bybelkennis na vore, God se tyd is nie ons tyd nie, Jesus sal op die wolke kom om ons te kom haal – dit is nou dié wat gered is.
Ons moet geduld beoefen en volhard in gebed, want die wêreld sal vergaan, maar God se Woord sal bly staan.
Benoudheid pak my beet en ek besluit hier moet ek uitkom.
Uiteindelik haal ek weer asem en is ek veilig in my motor en skakel dadelik ’n pastoorvriend, ’n ware Godsman in woord en daad, en vertel hom van hierdie eienaardige besoek.
Nodeloos om te sê hy is toe deeglik bewus van al die bewerings en na ’n telefoniese gebed is ek weer op my gemak.
Mense ons moet waak en bid dat ons nie in die versoeking kom nie, maar o wee, sommige mense kan die versoekings van die duiwel net nie weerstaan nie.



