BlogsOpinion

Bou lewenswaardes van kleins af

Elkeen van ons het sekere lewenswaardes wat ons van kleintyd af by ons ouers en grootouers geleer het, en soos wat ons grootword, vorm hierdie waardes deel van ons lewens.

Eerlikheid, byvoorbeeld, is iets wat ‘n blywende merk op my gemaak het, en ek het geleer dat my ja my ja moet wees en my nee my nee.

Nou wonder ek waarom mense vandag so maklik hulle waardes oorboord kan gooi, en dit sonder om te blik of te bloos.

Is dit miskien om in te val by die “groep”, of is dit omdat mense in die huidige tydsbestek waarin ons lewe agterkom dat dit baie makliker is om in te pas as ek maar net hierdie keer afsien van my waardes.

Al gehoor iemand sê so eerlik soos goud?

Dit is nou as iemand baie eerlik is, want om eerlik te wees is die voordeligste.

Dus, om af te sien van jou eerlikheidswaardes kan ongelukkig lei tot verreikende gevolge.

Dink maar aan bedagsaamheid.

Dit is nog ‘n waarde wat mens nie deesdae baie sien nie.

Volgens die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, beteken bedagsaamheid om versigtig te wees, met oorleg en om nie oorhaastig te wees nie.

Oordink ons deesdae idees en tree ons met oorleg op?

Dit is net so sleg om halsoorkop in ‘n ding in te beweeg as wat dit is om nie versigtig te wees nie.

Hierdie optrede kan lelike nagevolge inhou.

Saam met dit kan dit emosionele sowel as fisiese pyn veroorsaak.

Dink maar hoe vining ons soms lelik is met iemand wat ons op ‘n verkeerde tyd vir hulp vra.

Hoe onbedagsaam van ons om daardie persoon af te jak.

Dikwels sal ons eers na die tyd besef, wanneer ons afgekoel het, dat ons eintlik baie onbedagsaam was.

Dan kom spyt te laat, want die onbedagsame woorde wat ons geuiter het kan nooit weer terug geneem word nie.

Veral as dit dalk ‘n vreemdeling was teenoor wie ons onbedagsaam was.

Waar sal ons dié persoon opspoor om verskoning te vra.

Vriendelikheid – wel hieroor kan mens baie sê.

Dit beteken minsaam, vrolik en welwillendheid, wat beteken dat jy ander goedgesind moet wees.

Hoe behandel ons ons medemens, is dit met liefde en bedagsaamheid, of is dit kortaf en disrespekvol?

Ons het, as gevolg van die gejaagdheid en die strewe na sukses, vriendelikheid oorboord gegooi.

Medemenslikheid is nog ‘n waarde wat ons al te dikwels vergeet.

Dink nou maar aan Ubuntu, wat ook deernis en menslikheid beteken: ”the spirit of togetherness”.

Hierdie begrip kom van die voortyd af, toe ons mense nog met ossewaens getrek het en daar ‘n gees van hulp verlening bestaan het, daardie omgee tyd.

Dit is nie ‘n reg om ander se menslikheid uit te buit nie.

Met dit kan ons onsself afvra: met hoeveel menslikheid hanteer ons ‘n situasie?

Veral hierdie tyd van die jaar, wanneer irritasie en moegheid hoogdy vier.

Dink twee keer voordat jy onmenslik optree tenoor ander mense.

Dit is beter om menslikheid aan die dag te lê met die hantering van ‘n situasies.

Om eerlikheid, bedagsaamheid en medemenslikheid toe te pas en deel te maak van ons daaglikse bestaan, sal beslis ons lewenswaardes verhoog.

Dan sal almal meer vredeliewend teenoor mekaar wees en sal ons in vrede kan lewe.

Wat ‘n wonderlike gebeurtenis om na uit te sien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button