Hendrik is meesterskampioen
Hy hardloop elke dag na werk in die paaie van Geduld en Petersfield
Hendrik Booysen (58) raak buierig en depressief as hy nie hardloop nie.
Alhoewel hy al sedert sy skooldae al hardloop, het hy in April tydens die SA Meesters Atletiek Kampioenskappe sy Protea kleure verower.
Hy is ‘n 400-meter atleet en het tydens hierdie kampioenskappe in Rustenburg dit met `n tyd van 1:03sek afgehardloop.
Atletiek is deel van sy lewe vanaf 1962 toe hy begin skoolgaan het by Laerskool Verkenner in Benoni. Hy het tydens sy hoërskool loopbaan by Hoërskool Brandwag en Hoëskool Stofberg in 100m, 200m en 400m uitgeblink.
Na sy skoolloopbaan was hy fisiese opleidingsinstrukteur in die weermag, waar hy saam met die troepe geoefen en nooit eenkant gestaan en bevele gegee het nie.
Na die weermag het hy na ‘n jaar van rus weer begin oefen en ook aan padwedlope deelgeneem.
“Om aktief te wees is soos voedsel vir my ligaam en siel,” sê hy.
Na `n jaar se gereelde oefening het hy in die senior-afdeling begin hardloop.
“Ek het teen Deon Brummer en Fanie van Zyl begin hardloop en 1977 my provinsiale kleure verwerf in 400m en 800m en in 1978 my Springbok kleure.”
Hy het ook twee keer die Comrades Marathon gehardloop en spog met een silwer medalje en `n brons een.
Sy eerste prestasies in die 400 meter was op 14 Mei 1997 toe hy `n goue medalje by die veteraan wêreldspele in Durban vir die 400 meter gekry het.
Hierna het hy tydelik afgetree en weer op 50-jarige ouderdom begin hardloop, sy provinsiale kleure verower en goud by vanjaar se SA Meesters Atletiek Kampioenskappe verower.
Hendrik hardloop elke dag na werk in die paaie van Geduld en Petersfield.
Vir kragwerk hardloop hy op die mynhope agter die Verre Oos-Randse Hospitaal.
Hy hou homself verder besig om ander af te rig.



