Huldeblyk aan Jan van Riebeeck onderwyser na 40 jaar van toewyding
Na vier dekades van onwrikbare toewyding neem Laerskool Jan van Riebeeck afskeid van een van hul onderwysers.
Na 40 jaar van onwrikbare toewyding aan onderwys en die ontwikkeling van die jeug, neem Laerskool Jan van Riebeeck afskeid van Amanda Matthysen.
“Ons doen dit met groot dankbaarheid en ’n tikkie hartseer,” sê die skool se woordvoerder, Erika Duvenhage.
“Vir 40 jaar lank was sy ’n geliefde en gerespekteerde onderwyseres wat ’n blywende indruk op generasies van Jannies gemaak het.
“Sy het haar onderwysloopbaan met passie en oorgawe aangepak, en van haar eerste dag in die klaskamer tot haar laaste was dit duidelik dat onderrig nie net ’n beroep was nie, maar ’n roeping.
“Met geduld, vriendelikheid en vasberadenheid het sy talle leerders gehelp om hul potensiaal te ontdek en te ontwikkel,” het Erika vertel.
“Oor die jare het sy nie net kennis oorgedra nie, maar ook belangrike lewenswaardes soos respek, deursettingsvermoë en selfvertroue by haar leerders gekweek.”
Baie oudleerders onthou haar as ’n onderwyser wat altyd tyd gehad het om te luister, te ondersteun en aan te moedig. Haar invloed strek veel verder as die klaskamer.
“Amanda was ook ’n gewaardeerde kollega en mentor vir baie onderwysers. Met haar jarelange ervaring en wysheid het sy ’n belangrike rol gespeel in die ondersteuning van jonger personeel en in die bou van ’n sterk span by die skool,” het Erika gesê.
“Haar rustige geaardheid en professionele ingesteldheid het haar ’n steunpilaar in die skoolgemeenskap gemaak.”
LEES OOK: LETTER: Resident demands proper maintenance and security at Geduld Cemetery
LEES OOK: Springs Mine and Military Museum to host military re-enactment display



