CrimeNews

Kapings se syfers klim

“Die verdagte het net vir my in sy taal gesê ek moet uit my voertuig klim,”

Met meer as sewe kapings wat aangemeld is by die Witbank Polisiestasie vandeesweek, klim die syfers steeds daagliks.

WITBANK NUUS het voorheen al die inwoners teen motor- en trokkapings gewaarsku met talle berigte, maar elke week kom kapers met ’n nuwe modus operandi.

Sondagmiddag, 6 November het nog ’n inwoner sy voertuig verloor in die strate van eMalahleni toe hy stilgestaan het by ’n rooi verkeerslig in Gordonweg.

“Ek het in my spieëltjie gekyk en die silwer BMW gesien stop agter my. Die voertuig het te naby aan my voertuig gestop, maar ek het niks gedoen daaraan nie. Ek het seker vir ’n halwe minuut my oog van die kar agter my afgehaal en toe ek weer opkyk het daar ’n man met ’n vuurwapen langs my venster gestaan,” het die slagoffer angstig vertel.

Volgens die slagoffer het die man hom uit sy voertuig gedwing maar niks anders van hom versoek nie.

“Die verdagte het net vir my in sy taal gesê ek moet uit my voertuig klim,” het hy verder gesê.

Na die verdagte in die slagoffer se metaal groen BMW met die registrasie, HNC 458 MP geklim het, het beide BMW’s weggejaag.

“Ek weet nie presies waarheen hierdie mans gegaan het nie, maar dit was in die rigting van die ou-Middelburgpad (R555),” het die slagoffer mismoedig vertel.

Volgens vorige berigte is die kapers se manier van doen om ’n slagoffer te kaap deur hulself as polisiebeamptes voor te stel deur blou ligte op ’n voertuig te sit en die slagoffers af te trek. Dit gebeur ook baie dat kapers die ‘tap-tap trap’ gebruik en teen die slagoffer se buffer te stamp sodat die slagoffer tot stilstand kom en uitklim.

“Inwoners moet meer paraat wees oor wat om hul aangaan en die basiese veiligheidsmaatreëls volg as hul reis in hul voertuie,” het die polisiewoordvoerder, kapt. Eddie Hall ten slotte gesê.

LEES OOK:
Verwag enige tegniek vir kapings
Mislukte kaping verander in skietgeveg

 
Back to top button