Local newsNews

Vriende amper gekaap, koeël in paneelbord vertel die storie

“Ek sal nooit in my lewe weer daardie pad ry nie,” sê man nadat hy amper deel van die misdaadstatistieke geword het.

Vir Calvin Keel en sy vriende het ’n rit vanaf Pretoria gisteraand in ’n nagmerrie ontaard toe hulle amper deel van die kapingstatistieke geword het. Hulle was op pad terug Laeveld toe.

LEES MEER HIER Skoonheidstitelhouer, Roxy Bruwaene van die nagmerrie-ondervinding op die N4 toe sy amper gekaap is


Keel vertel hy het skuins voor middernag, so 40 kilometer voor die Middelburg-tolhek, oor ’n groot klip in die pad gery.


“Ek het uitgeklim om die skade aan my bakkie te bepaal. My vriend wat saam met my was, het ook uitgeklim. Ek het by die voorwiel gebuk toe ek ’n beweging aan die regterkant sien. Skielik was daar ’n knaap met ’n vuurwapen langs ons.”


Keel se vriend, wat verkies om anoniem te bly, het ’n wapen wat loskruit skiet en hy het die man vol in die gesig geskiet.


“Toe die knaap weghardloop, het ons in die bakkie gespring en met die stukkende wiel en al weggejaag,” het Keel gesê.


Hy het ’n silwer Polo langs die pad opgemerk wat agter hulle ingery en hulle begin agtervolg het.


“Ek het besef hier is moeilikheid en net aanhou ry. ’n Entjie verder het ek ’n sekuriteitsbakkie langs die pad gesien en verwoed begin ligte flikker. Die bakkie het dadelik oor die middelman na ons toe gery en toe ek verduidelik wat gebeur het, het die bestuurder agter ons aangery tot by nog ’n sekuriteitsbakkie en ook Trac se bakkie.”


Volgens Keel het een van die sekuriteitsbeamptes ’n skoot op die Polo afgevuur toe dié nader kom.


“Die Polo het omgedraai en weggejaag. Toe ek van nader kyk, het ek ’n koeëlgat aan die deur aan my kant opgemerk. Ek het toe besef die koeël het my baadjie wat ek aangehad het, gebrand en dit is in my bakkie se paneelbord in.”


Keel se ma, Toinette, het gesê sy oorweldig deur dankbaarheid dat haar seun en sy vriende veilig is.


“Ek dank die Here dat Hy Calvin en sy vriende beskerm het. Dinge kon soveel anders verloop het. Ons as ouers moet ons kinders in gebede toevou,” het sy gesê.


Keel sê hy sal nooit weer in sy lewe op die N4 ry nie.


Solange Soares Nicholson van Trac N4 het gesê hulle is bewus van die voorval.


“Die gedeelte tussen Gauteng en die Hoëveld is baie gevaarlik en ons waarsku motoriste om verkieslik nie na donker op die pad te ry nie.”

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: [email protected]

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button