Sonder waarskuwing steel heroïne lewens, breek dit drome in skerwe en los families met vrae, verwyte en ‘as ek maar net…’
Dinsdag 14 Januarie is dieselfde gebed in twee verskillende kerke aangehoor tydens ’n begrafnis en ’n roudiens van twee van die stad se jong mense wat as gevolg van ’n oordosis dwelms dood is.
“Sit asseblief net ’n foto van my seun in de koerant sodat almal kan sien hoe mooi my kind was,” het me. Ria Koen gevra.
Haar seun Dwayne van der Linde (21) is op 8 Januarie dood.
Dwayne se stiefpa, mnr. Marius Koen het vertel van die dwelmhel waardeur die jong man is.
“Dwelms het Dwayne se lewe kortgeknip. Hy het so hard baklei en hy wou so graag ophou, maar die stryd was net té oorweldigend,” het mnr. Koen gesê.
Die egpaar het woordeloos na mekaar gekyk, op soek na antwoorde wat dalk ’n bietjie berusting sal bring.
“Ek was so trots toe Dwayne gebore is, ek her ure na hom gestaar ek kon nie glo hy is myne nie,” het me. Koen gesê.
Haar trane het merke op die fotoraam gemaak waaruit hy breed glimlag. Dié onlangse foto kry dit nie reg om die prentjie te beskryf van die innerlike stryd waarmee hy daagliks te doen gekry het nie.
Mnr. Koen het stilgeraak toe hy die herinneringe oproep van net twee maande terug toe Dwayne op 8 November sy mondigwording gevier het, “Hy was so gelukkig. Ons het vir daardie een dag van al ons probleme vergeet. Op die foto’s kan jy maar gaan kyk, selfs sy oë lag saam. Hy was die ou Dwayne, ons Dwayne.”
Die vriende wat saam met Dwayne was op die dag waarop hy dood is, het gevra om anoniem te bly.
Hulle het Dwayne by sy ouerhuis opgetel om DVD’s by hul huis te gaan kyk.
“Ons het almal aan die slaap geraak en toe ons wakker word, was Dwayne dood. Ons het ook nie duidelikheid oor wat gebeur het nie. Ons het ’n vriend, ’n ware vriend verloor,” het een van die vriende gesê.
Met die polisie se besoek op die toneel is daar heroïne in Dwayne se sak gevind, terwyl ’n teelepel, die leë sakkie waarin oorblyfsels van die heroïne was en die spuitnaaldmerke op sy arm die stille getuies was van die oorsaak van die jong man se dood.
“Ek weet jy wonder soms hoekom dinge moet gebeur. En ek weet jy’t baie vrae en jou hart is baie seer. Ek weet my plek is leeg langs jou, ek sal altyd by jou wees,” die liedjie van Juanita du Plessis het die kapel se hoeke gevul waar die 27-jarige Azylia Meintjes se begrafnisdiens Maandag 14 Januarie, op haar geboortedag, gehou is.
Azylia is op 6 Januarie aan ’n oordosis dwelms dood. Azylia het ook ’n jarelange stryd teen dwelms gevoer. Sy was voorheen van eMalahleni en was ten tye van haar dood in Pretoria woonagtig.