Vrou wag al 20 dae vir operasie aan hand
“Ek bid net dat Audrey nie haar hand verloor nie,” is die moedelose woorde van die man wat dag na dag moet toekyk hoe sy vrou se beseerde hand net vererger.

Me. Audrey Botha is op 5 Januarie in Witbank Hospitaal opgeneem na ’n vierwielaangedrewe-motorfietsongeluk.

X-strale van haar hand wys duidelik waar die beentjies gebreek is.
In die 23 dae wat sy reeds in die hospitaal lê, is die operasie om aan haar hand te werk al twee keer uitgestel.
Haar man, mnr. Marthinus Botha het gesê Audrey se operasie was vir 7 Januarie geskeduleer.
“Hulle het Audrey om 05:00 al gereed gemaak vir die operasie, sy sou 08:30 geopereer word. Ons het gewag dat sy ingaan toe kom haal die verpleegpersoneel haar bed om ander pasiënte te gaan haal. Sy moes op ’n stoel haar beurt afwag. Hulle het haar eers 15:30 in teater ingevat waar hulle haar hand net skoon geskrop het,” het Botha gesê.
Op 20 Januarie is die operasie weer uitgestel omdat die X-straal masjien glo stukkend was.
Botha het gesê al pynstillers wat vir Audrey voorgeskryf word is gewone pynstil-tablette.
“Audrey is besig om stelselmatig agteruit te gaan. Haar gemoedstoestand is ook baie negatief. Ek is raadop, ek weet nie waarheen om te gaan of by wie om aan te klop vir raad nie,” het Botha gesê.
Botha het gesê die ongeluk speel oor en oor in sy gedagtes af.
“Ek en Audrey het gery en sy het skerp na links gedraai toe sy té na aan my vierwielmotorfiets gekom het. Toe sy die sand aan die kant van die pad vang, het die vierwiel opgelig en met haar nog op daarop gerol. Met die tweede rolbeweging het een van die wiele op haar hand te lande gekom. Ek het gedink ek het my vrou verloor.”
Verskeie pogings om met die Departement van Gesondheid en self Witbank Hospitaal te kontak oor die geval was vrugteloos.