Geveerde verdagte beskuldig as hondedief
’n Misterieuse roofvoël het inwoners en eienaars van klein hondjies benoud, na dié breë-vlerk kreatuur in ’n residensiële buurt opgemerk was.
Inwoners van Blancheville, Die Heuwel en Hoëveldpark omgewings vertel van ’n groot voël wat soms oor huise se dakke swiep of al dreigende sirkel in die lug waar dit op die uitkyk is vir prooi.
Me. Nolene Reyneke, ’n inwoner van Blancheville, het vertel dat hulle weer onlangs die voël gewaar het naby hul erf.
“Ons het hierdie groot valk in die bure se boom gesien en die volgende oomblik het hy weggevlieg, ‘n draai gemaak en reg bo-oor ons koppe, in ons oprit, oor my en Johan se koppe gevlieg,” het Reyneke herroep en gesê dat hul dieselfde voël weer die volgende dag oor hul huis sien sweef het en weer gewaar het op hul huis se dak. “Sy vlerkspan is oor ’n meter breed,” het sy dan bygevoeg.
Die Reynekes was bekommerd oor hul klein miniatuur Dobberman (net twee maande oud) wat hul reken maklik deur die groot valk sal kan verskeur word en meen dat hul glad nie hul troeteldier buite alleen kan los nie.
Mnr. Robby Sutherland, nog ’n inwoner van Blancheville, het vertel hoe een van sý miniatuur Dobberman hondjies in November laas jaar spoorloos verdwyn het nadat hy net vir ’n paar minute weg was.
“Ek het na die winkels toe gegaan en toe ek terug kom was die hondjie weg,” het hy gesê. “Die erf is heeltemal toe en daar is nie ’n manier wat sy self kon uitkom nie.”
Sutherland meen dat gevalle van honde wat deur valke of arende weggedra word, nie te ongewoon is nie en dat hy dit selfs al vantevore gesien gebeur het.
“Ek het vyf van hierdie hondjies en hul weeg maar net so 500 tot 700 gram,” verduidelik Sutherland. Die hondjies word nie veel groter as hase nie en Sutherland meen dat hul maklik deur roofvoëls as prooi gesien word.
’n Kenner by Witbank Natuurreservaat, mnr. Johan Combrink, vertel weer dat dit onwaarskynlik is dat ’n valk op honde sal prooi omdat hy sê hul te klein is. ’n Arend is meer geneig om groter prooi te vang en van dié kry mens min in eMalahleni. Die twee algemene roofvoëls wat gesien kan word naby Witbank Natuurreservaat is die Visarend en die Bruinjakkalsvoël.
Die Bruinjakkalsvoël pas die meeste by die beskrywing van die ‘valk’ wat in die Blancheville omgewing opgemerk was. Die voël is bruinkleurig, word 46 tot 52cm groot en weeg van 540 tot 920 gram. Die Bruinjakkalsvoël se dieet bestaan meestal uit insekte en klein knaagdiere.
“Ek het op ’n tyd ’n probleem gehad met rotte en daar is baie muise oorkant in die veld,” het Sutherland ook vertel en gesê dat dit moontlik die roofvoël kon lok wat nou in die omgewing bly rondvlieg.
Die voël is nog nie geïdentifiseer nie en dis steeds onbekend waar dit vandaan gekom het. Reyneke het gemaan dat inwoners met klein hondjies maar op die uitkyk moet bly vir die potensiële hondedief.