Pad na Donnalee se hart loop deur eMalahleni
Die pad is dalk lank en soms vol gate, tog is daar die mense wat die rit altyd die moeite werd maak.
Donnalee Roberts, aktriese en ster van ‘Pad na jou hart’, het onlags weer kom kuier in die stad waar sy grootgeword en waar sy nog ’n stuk van haar hart vind.
“Dit (eMalahleni) het baie gegroei en uitgebrei,” vertel sy wanneer sy dan die ou ‘Witbank’ onthou. “…vanaf ‘n klein dorpie gevoel waar jy almal geken het tot ‘n groot stad.”
Dié ou-Hoër Tegniese Skool student het die ‘goeie ou dae’ weer herleef en na haar skoojare verwys as ‘van die wonderlikste jare van haar lewe’.
“Witbank Tegniese Hoërskool het lieflike onderwysers gehad en dit was waarlik ‘n skool waarin ek my passie vir drama en toneelspel kon uitleef. Ek was ‘n veelsydige kind en wou deel wees van alles, drama, redenaars, netbal, atletiek, dirigente, rivue..en..en..en..die lys gaan aan en aan en Witbank Tegnies het vir my al daardie geleenthede gebied, en dit was ‘n skool waarin my waardes en my geloof gerespekteer was en geleentheid gegee is om in te groei. Ek het ook wonderlike vriendinne en vriende gehad wat natuurlik bygedra het tot die fees wat my hoërskool jare was.”
Donnalee se ma, Wilma, is steeds woonagtig in eMalahleni en alhoewel Donnalee baie besig bly, kuier hul steeds gereeld saam. “As gevolg van my lang werksure kom kuier sy meer in Johannesburg by my kuier, maar dis altyd lekker wanneer ek wel die kans kry om ‘huis’ toe te gaan.”

Donnalee vertel dat haar ma en pa, Llewellyn, nog altyd geweet het dat ‘n loopbaan in die vermaaklikheids industrie al is wat sy nog ooit wou doen, en haar aangehits om haar drome te volg. “Hulle het my geleer dat as jy alles insit en altyd ekstra hard werk en ten alle tye met integriteit en opregte intensies enige projek aanpak, dan kan dit nie anders as om geseënd te wees nie.” Met die ondersteuning van haar trotse familie kon Donnalee na die sterre reik en sukses behaal.
“Op skool was ek ‘n wonderlike geleentheid gebied om saam met baie talentvolle onderwysers te werk en deel te wees van al die drama en kultuur aktiwieite en daarin te groei en te ontwikkel. Daarna het ek by die Universiteit van Pretoria ’n BA graad in Drama gaan studeer, toe nog twee jaar by die PALI filmskool en by albei die instansies weereens met wonderlike talentvolle dosente gewerk,” het Donnalee haar pad na die ‘groot skerm’ herroep. “Daarna het ek eers by 7deLaan begin. Tydens my jare daar het ek ook vir ‘n tydperk in New York gaan studeer by die New York Film Academy. Ek glo as ‘n mens sukses wil bereik moet jy nooit ophou leer, hard werk en groei nie.”
Donnalee het ook ’n bietjie meer oor die gewilde sepie, 7de Laan, vertel.
“Om op ‘n sepie te werk is baie harde werk en baie lang ure, partymaal tot 12 ure ’n dag en dan moet jy nog in die aande woorde leer vir die volgende dag. Dit het my baie selfdissipline geleer,” meen sy.
“Die skiet styl is baie tegnies, ons skiet Multi Cam – met drie kameras, so dit was ‘n wonderlike leer geleentheid en die span mense daar word soos jou familie.”
Alhoewel 7de Laan aanhangers steeds Donnalee ken as ‘Annelie’, meen sy dat dit haar glad nie pla om as dié karakter herken te word nie. “Ek is mal oor my karakter en ek het ‘n waardering vir mense wat ’n mens se werk ondersteun – maak nie saak watter karakter ek speel nie.”
Donnalee en mede 7de Laan ster, Ivan Botha, is weer saam te sien in ‘Pad na jou hart’ wat onlangs begin draai het. Die film, wat rekords laat spat het tydens die openingsnaweek, het skare van aanhangers gelok. Donnalee was verheug oor die baie groot en goeie ontvangs tydens die bekendstelling van die film.
“Dit is só ’n groot voorreg! Ons het daarop gehoop en baie, baie, baie hard daarvoor gewerk. Ons is onbeskryflik dankbaar vir almal se ondersteuning!”
Wanneer Donnalee nie voor die lens van ’n kamera is of dan ’n blaaskaans soek van al die ‘ligte, kamera en aksie!’ spandeer sy tyd saam met vriende en familie.
“Tyd saam met my geliefdes en my ouers is waar ek rus en kan afskakel. Ek hou ook baie van lees so ek ‘vlug’ baie maal na die bladsye van boeke toe vir alleen tyd.”
Daar is nog soveel meer om van dié ster te leer en nog baie meer om te sien. Só stap ons saam met Donnalee op die ‘Pad na jou hart’.
