Agter die VLU
Daar is baie om te sê oor die Vroue Landbou-unie (VLU), maar daar is nog meer om te sê oor die dames van die onderskeie takke wat die Carpe Diem Streek vorm.
“Die VLU is ‘n opvoedkundige organisasie waarin vroue met dieselfde waardes geleenthede tot verruiming gebied word sodat hulle ‘n bydrae kan lewer en ‘n daadwerklike aandeel kan hê aan die ontwikkeling van ons land.
Die Célèbre-tak is een van eMalahleni se meer bekend VLU takke. Robyn Smidt is die voorsitter van hierdie tak en sy het hierdie jaar ‘n toekenning gekry vir haar 20 jaar lidmaatskap. Twee ander dames van Célèbre het hul vyf jaar toekennings gekry by die 13de Carpe Diem-konferensie waar al die takke in die streek saamkom.
Ook van Célèbre het Elza Derbyshire en Elsabe Nortjé tweede plek behaal in hul onderskeie kategorieë: Elza vir naaldwerk en Elsabe vir blommerangskikking, asook ‘n tweede plek in prosa.
Ander kategorieë waaraan die lede kan deelneem, sluit in: fotografie, bak, brei, kuns en verskeie ander. Dames van ‘n ander streek is gevra om te beoordeel. Robyn is ook ‘n gekwalifiseerde beoordelaar en Marina Nieuwoudt het onlangs met haar opleiding begin om ‘n beoordelaar te word.
Die tema van vanjaar se konferensie was ‘Gatsby’ en al die dames het volgens die tema aangetrek. Elmien Botha, ‘n motiveringspreker het rêrig met hul harte gepraat. Sy het verduidelik hoe die lewe soos drie balle is. Een is hul geloof, een is hul verhoudings, en een is hul werk. Die werkbal is plastiek so as dit val kan dit nie sommer breek nie, maar die ander twee is uit glas gemaak.
Marina het verduidelik dat die taklede soos susters is “Ons is altyd daar vir mekaar. By ons tak het baie van die lede in die laaste paar jaar deur baie hartseer gegaan en ons was daar om mekaar te ondersteun.”
Die doel van die VLU is breed, maar die eerste paar punte is “om die vrou se kennis te verbreed en om haar eie talente te ontdek en verbreed. Die VLU speel ook ‘n rol in mensekennis en eiewaarde van die dames.
