Jou stem kan geskiedenis maak
Geskryf deur Henro Kruger (DA-parlementêre kandidaat), 54 Hans Strydomlaan, eMalahleni:

Uitsprake deur politieke partye tydens die huidige verkiesingsveldtog laat vele Afrikaanssprekendes dikwels koud en negatief, met ander wat selfs wonder of daar vir hierdie minderheidsgroep ‘n toekoms in die land is.
Ongegronde en soms selfs belaglike verkiesingsbeloftes van onteiening, verdere regstellende aksie en rassekwotas, word rondgeslinger vir die doel van goedkoop politiek. Hierdie uitlatings word gemaak om radikale elemente binne die politieke bestel tevrede te stel, en meerendeels sal vele se sogenaamde “oplossings” vir ons land se verskeie uitdagings nooit getoets kan word nie.
Al hierdie uitlatings veroorsaak dat die Afrikaner as ‘n minderheidsgroep, bedreig begin voel.
Daarteenoor glo die DA dat ons beleid van ‘n oop-geleentheidsgedrewe samelewing vir almal, nie net vir die Afrikaner as minderheidsgroep ‘n oplossing bied nie, maar ook ‘n oplossing aan alle Suid-Afrikaners bied.
Individuele vryheid bly die oplossing: Waar die DA regeer het elke persoon die geleentheid om die beste van hulself te wees, elkeen geniet dieselfde geleenthede om hulle eie drome en ambisies te bewaarheid.
Diskriminasie teenoor ras, geslag, geloof of derglike diversiteit is totaal en al taboe.
Die DA is die enigste party wat nie sy stemwerwingstrategie baseer deur rasseverdeeldheid te bevorder nie. Ons streef daarna om almal se behoeftes te bevorder, en nie ten koste van ‘n spesifieke groep nie.
Terwyl kleiner partye voorgee hulle staan op vir minderheidsregte, het hulle eintlik net hulle eie minderheidsvoorregte ten doel.
Binne ‘n DA-regeringsbestel is daar plek vir elke individu, nieteenstaande hulle ras, taal en kultuur. Laat ons dus saam voortbou op die 1994-droom en ideaal van ‘n verenigde en voortvarende Suid-Afrika deur vir die DA te stem, en nie ons stemme te mors op ander wat verdeeldheid saai nie.
