Editor's choiceLocal newsNews

Sonder bril maak Tannie Bella erfstukke

Wanneer jy Tannie Bella Stander die eerste keer ontmoet, sal jou nooit kan raai sy raak-raak so aan 95 jaar nie.

Tannie Bella se gesig het sommer so van lekkerkry gekreukel toe sy laat val dat sy dié Vrydag op die 13de verjaar.

Wat Tannie Bella merkwaardig maak is die feit dat sy op haar rype ouderdom pragtigste en allerfynste doilies maak en dit sonder ‘n bril.

Gehekelde doilies neem jou onwillekeurig terug na die goeie ou dae toe ouma se teekoppies gerinkel het op die skinkbord terwyl sy die gang afgestap kom. Onthou jy nog die geur van boerebeskuit wat die hele huis sommer so omhels het? Oor die melkbekertjie was daar dan altyd die mooiste versierde doilie.

Tannie Bella het vertel dat sy nou eers die afgelope 19 jaar doilies maak.

“My dogter, Isabel, het in 1995 vir my ‘n boek gegee wat handel oor die maak van doilies. Die boek het lank daar gelê tot op ‘n dag wat ek net besluit het vandag maak ek ‘n doilie,” het Tannie Bella vertel.

Oor die eerste paar doilies sê sy nie veel nie, net dat dit lekker skeef was. Intussen het sy die kuns baasgeraak en vandag maak sy sit sommer met toe oë.

Tannie Bella gebruik net DMC gare nommer 100 wat van Frankryk ingevoer is, en dié kry jy net in Vereeniging te koop. Ook die kraletjies wat sy gebruik word ingevoer. Sy word sommer kwaad toe sy vertel hoe duur die traan-kraletjies geword het. “Dit kos nou al R1 elk”.

Tannie Bella, ‘n inwoner by Immergroen Ouetehuis, het in die Windhoek-distrik grootgeword.

“Ek is ‘afie-plaas’. In my jong dae het ons nog met ‘n ossewa en perdekar gery. Distansies daar was skrikwekkend. Ek is nie seker oor die kilometers nie, maar ek weet ons het 140 myl van Windhoek af gebly.”

Tannie Bella is later met Oom Boeller getroud en in 1988 het hulle na die destydse Witbank getrek.

“Ons het by die Olifantsrivierstasie gebly. Boerdery was in ons bloed. Witbank was die koudste plek, ai die wintersoggende was glad nie lekker nie.”

Tannie Bella het vertel dat haar dogte , Rina en skoonseun, Attie Retief nou op ‘n kleinhoewe so ‘n klipgooi van die huis waarin sy haar vier kinders grootgemaak het, bly.

‘n Sluier het oor haar oë getrek toe sy vertel dat Oom Boeller in 1992 oorlede is en sy haar seun MC in 1997 in ‘n motorongeluk aan die dood afgestaan het.

“Ek het reeds vertel van Rina en Isabel. My oudste dogter is Petra. En dan het ek ook agt kleinkinders en 13 agterkleinkinders.”

Tannie Bella het opgewonde vertel dat haar 14de agterkleinkind op 11 Junie verwag word.

“Dit is ‘n dogtertjie. Sy word in die dooprok gedoop waarin ek 95 jaar terug gedoop is. As ek reg kan onthou is daar vir my vertel die dooprok, wat van Chinese sy gemaak is, was in Krugersdorp gekoop.”

Tannie Bella het die doilie waarmee sy tans besig is vasgehou, met elke kraletjie wat sy in die fyn gare inryg sê sy dankie.

“Dankie aan God wat my deur genade tot hier gebring het. Dankie dat ek kan spog met drie geslagte na my en dankie aan almal wie se voetspore in my lewe afgedruk is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button