CrimeNews

OTM diewe maak sakke vol

Wees asseblief versigtig as jy gaan geld trek by enige Outomatiese Teller Masjien (OTM).

Die afgelope paar weke is al hoe meer mense van hul bankkaarte besteel en in verskeie gevalle is groot bedrae geld uit hul bankrekeninge getrek binne minute.

Op Saterdag 12 Julie was mnr. Gideon Pitout die slagoffer toe hy geld by ’n OTM binne The Ridge kompleks wou trek.
“Ek het ’n netjies geklede man by die OTM gewaar. Dit het gelyk of hy aan die masjien werk en ek het hom gevra of die masjien stukkend is en of ek dit kan gebruik?” die man het geantwoord dat hy dit reggemaak het en dat dit nou reg is. Volgens Pitout het dit gelyk of die man ’n werknemer van die bank is, hy het selfs ’n logo van die bank op sy trui gehad.

“Ek het net hierdie gevoel gehad dat iets nie pluis is nie. Ek het my kaart in die masjien gedruk, maar die transaksie gekanselleer voordat ek my pin-nommer ingetik het,” het Pitout gesê. Die man het nadergestaan en gevra of daar ’n probleem is.

Hy het Pitout se kaart geneem en onmiddellik daarmee verdwyn. Vandat ek my kaart om 11:57 in die masjien gedruk het tot 12:04 wat hy weg is met my kaart is R10 000 uit my rekening onttrek by ’n bank in Highveld Mall. My limiet is R1 000 per dag en hy het nie eens my pin gehad nie.

Pitout vermoed dat dit ’n sindikaat is wat binne en buite die banke saamwerk.

Die sekuriteitsbestuurder by The Ridge het gesê dat hy kennis dra van die voorval en dat mnr. Pitout dit wel by hulle sekuriteit aangemeld het, waarop hulle om geadviseer het om die saak by die polisie aan te meld. Hy het ook gesê dat hulle na beeldmateriaal van die voorval gekyk het om te probeer vasstel wat presies gebeur het.

“Alhoewel daar nie ’n wag 24/7 by die OTM’e op wag is nie, word gereelde patrollies in die omgewing gedoen en is besoekers se veiligheid vir ons van uiterste belang,” het ’n woordvoerder van The Ridge gesê.

In ’n ander geval is me. Annellene Uys se bankrekening Donderdag 10 Julie “leeggemaak”.
“Ek het in die ry by ’n OTM in Klipfontein gestaan en wag om geld te trek. Daar was ’n man voor my wat nogal baie geld getrek het.”
Uys het haar kaart in die masjien gedruk, maar dit het gesukkel om in die gleuf in te gaan. Dieselfde man wat voor haar geld getrek het, het nader gestaan en vir haar gesê “doen dit so”

In dié kort tydjie het hy haar kaart geruil met ’n ander kaart. Nadat Uys dit agtergekom het en dadelik die bank in is om die kaart te stop, is ’n groot bedrag geld onttrek.

“Die vrou wat my moes help om die kaart te stop het haar tyd gevat en was baie traag. In hierdie 10 tot 15 minute het hy alles gevat wat in die bank was,” het Uys gesê.

Volgens Uys het die sekuriteit wat buite by die OTM gestaan het glo ”niks gesien nie”. “Ek is behandel asof ek die krimineel is en om alles te kroon het die bank se misdaad-eenheid laat weet dat hulle nie die geld kan terugbetaal nie, omdat ek te lank gevat het om die kaart te stop,” het Uys gesê.

Kapt. Eddie Hall, woordvoerder van Witbank Polisie het gevra dat alle voorvalle van OTM diefstalle/bedrog so gou moontlik by die polisie aangemeld moet word, sodat daar gesien kan word of daar ’n patroon is wat gevolg word en of daar wel sindikaat-bedrywighede is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button