
Vroeg Dinsdagoggend 15 Julie is mnr. Anthony Dreyer se motorfiets uit ’n erf by die Jackaroo-plotte gesteel. “Hulle het die een hek oopgebreek,” het Dreyer verduidelik hoe die diewe toegang gekry het tot die erf.
’n Paar ure later is nog ’n diefstal gerapporteer toe mnr. Michael van Tonder, wat in Uitbreiding 16 woonagtig is, se Volkswagen Golf ook uit sy erf verdwyn het.
“Dis baie vreemd dat die honde buite en my een worshond, wat binne die huis bly, nie geblaf het nie,” het Van Tonder gesê. Die verdagte(s) het ook net die slot van die hek gebreek en só in gekom.
Van Tonder beskryf sy rooi Golf met registrasienommer: DTT 277 MP met ’n Blou Bul plakker agter op. “Daar was tot ’n ‘gearlock’ op en selfs die stuurwiel het ’n ‘lock’ op gehad.

Op Saterdag 19 Julie, het mnr. Dirk van der Watt sy voertuig as gesteel gerapporteer by die Saveways Sentrum. “Ons was by ’n restaurant en het net ons drinkgoed bestel toe een van die karwagte inkom en sê dat my kar nou net gesteel is.”
Van der Watt vertel dat daar blykbaar ’n wit Corsa langs sy voertuig gaan stop het, waaruit die verdagtes gespring het en in sy voertuig ingebreek het.
Van der Watt was oppad Randburg toe met baie van sy besittings soos: klere, ’n skootrekenaar, ’n rekenaar-drukker, sy gholfstokke, ensomeer, waarmee die verdagtes toe weggemaak het in sy groen Nissan Sentra (registrasienommer: ND 22561).
