CrimeNews

Panga teen vyfjarige se keel

Rowers vlug voor hulle vrou wou verkrag

Die vyfjarige dogtertjie hardloop, met angs in haar oë, na haar mamma. Voor sy die veiligheid van haar ma se arms kon bereik word sy hardhandig opgeraap deur die donker figuur wat die koue lem teen haar keel druk.

Dis ’n nagmerrie wat ’n ouer nie sommer kan vergeet. ’n Vrou se stem breek oor die foon as sy die gruwelike gebeure herroep. Dis ’n nagmerrie wat haar realiteit geword het…

Na ’n gesin, woonagtig in Tasbetpark 2, Dinsdagaand 21 Oktober gaan slaap het, kon niemand voorspel dat rowers ure later deur hul agterdeur sou breek nie.
“Ek het eers wakker geword toe hul die deur af skop,” het die vrou vertel. Sy het haar man langs haar wakker gemaak, maar het geweet, soos vrees op haar toesak, dat die indringers reeds in hul huis was.

“My dogtertjie se kamer is naaste aan die agterdeur,” het die vrou vertel. Die vyfjarige dogtertjie en tweejarige seuntjie in die huis was al waaraan die twee ouers kon dink toe hul na hul kamer gehaas het.
“My dogtertjie het uit haar kamer gehardloop na ons toe… toe hulle haar gryp…” die vrou se stem was skaars hoorbaar, soos die voorval weer in haar kop afspeel en sy moet hard sluk om die histerie, wat weer in haar wil opborrel, terug te hou.

Die rower, wat die kind gegryp het, het ’n panga teen die vyfjarige se keel gehou en die verskrikte ouers begin dreig.
“Ons het alles vir hul gegee… alles wat hul wou hê,” het die vrou gesê.
Sy onthou dat daar drie mans in die huis was – een wat met hulle in Afrikaans gepraat het en die ander twee wat in Zoeloe met mekaar gekommunikeer het.

Die verdagtes het onder andere ’n TV, dvd-speler en skootrekenaar gevat en die vrou, wie se aandag net by haar kinders was, het vlugtig herroep hoe dié mans ook baadjies uit haar man se kas gevat het en aangetrek het.
Die getraumatiseerde ouer het vinnig die res van die gebeure afgerammel en vertel hoe een van die verdagtes haar klein seuntjie deur die gesig geklap het om hom stil te maak.

Die rowers het hul buit in die gesin se voertuig gelaai. “My man verstaan Zoeloe,” het die vrou verder vertel met ’n bewerige stem. “Hy het gehoor hoe die een vir die ander twee sê om in die kar te gaan wag, terwyl hy my gaan verkrag en my man en kinders dood maak.”

Die vrou het weer swaar gesluk en voorts vertel hoe een van hul bure se buiteligte aangegaan het.
“Genadiglik toe die ligte aangaan, het hulle geskrik en toe net gery.”
Die wonde wat die verdagtes aan die twee klein kindertjies gelos het is nie meer sigbaar nie, maar die nagmerrie van die gebeure bly steeds.

*Die gesin se voertuig is in Old Coronation opgespoor, maar geen van verdagtes is nog gevind nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button