Na 53-jaar blom die liefde steeds in die Venters se huis
Tannie Annatjie (70) en Oom Fanie (78) het op 30 Desember hul goue-plus-drie huweliksherdenking gevier.
Die egpaar het al diep spore in die stad se geskiedenis getrap en kan lekker gesels oor die ‘ou dae’.
Die hoofstuk van hierdie liefdesverhaal begin in 1961 daar naby Breyten by Bankfontein Steenkoolmyn.
Tannie Annatjie het die storie begin vertel, “Ek het elke dag op pad skooltoe verby die hostel gestap waar die manne wat op die myn gewerk het, gewoon het. En elke liewe dag moes ek verby ’n groen Zeffertjie stap wat so in die koelte getrek was. Eendag toe stop ek by die Zeffertjie en ek sê vir die kar ‘Toemaar ou kar, jou baas gaan eendag my man wees’.
Dit was nie lank na die tyd nie of Tannie Annatjie en die baas van die groen Zeffertjie loop mekaar toe raak.
“Ai, ek was dadelik verlief op die man met die mooi blou oë,” het Tannie Annatjie vertel terwyl Oom Fanie se glimlag skaam-skaam wegkruipertjie speel.
Tannie Annatjie het vertel dat die opsitkers dae toe al verby was, maar haar ma was kwaai en tien uur in die aande was die ligte afgesit.
“My ma het klaar geweet dis haar skoonseun die en as die ander jongetjies wou kom kuier het sy streng gesê, ‘Nee, Fanie kuier hier!’”
Op 30 Oktober het Tannie Annatjie haar 17de verjaarsdag gevier en twee maande later is die tweetjies getroud.
“Ek moes eers wag tot ek 17 was, ek was mos dan ouer en ‘wyser’,” het sy vertel.
Oom Fanie het rustig na sy vrou gekyk en dieselfde jongnooi gesien wat 53-jaar terug sy hart gesteel het.
Oom Fanie was ’n grofsmid en so het die Venters in 1988 op Springbokmyn beland.
Daar is darem boekdele te vertel oor die lewe in ’n myngemeenskap.
“Ons het R10 betaal vir ’n huis dit het jou water en elektrisiteit ingesluit,” het hy onthou.
Tannie Annatjie het vinnig bygevoeg die myngemeenskap was baie bederf. As jou oond stukkend is kom vervang die myn dit dadelik, as jou huisie ’n lagie verf nodig het is dit die volgende oggend reeds al gereël, as jou dak lek is dit dadelik reggemaak, ja nee dit was die lewe gewees daardie.”
Die Venters het ook ’n groot aandeel gehad in die Merlindale NG Kerk wat op die myn gebou was. “Die gemeenskap het die kerk gebou,” het Oom Fanie vertel.
Tannie Annatjie het daagliks hul ‘kuikens’ gestuur om sop, vetkoek en broodjies vir die mense te vat wat besig was om die kerk te bou.
Tyd vir speel was daar baie en Oom Fanie wat bekend was vir die gereedskap wat hy self gemaak het, het vir die kinders kaskarre gemaak en die wiele self gedraai.
“Daai kaskar was lankal kis gery, maar die wiele het nog gehou,” het die egpaar se jongste seun, Billy vertel. Hy het gesê dat Oom Fanie later dieselfde wiele gebruik het, net ’n ander as en stuurstang opgesit het en daar was van voor af resies gejaag.
Billy het vertel dat hulle in afwagting elke Donderdag vir die Huisgenoot gewag het.
“Die resep wat die week in die tydskrif verskyn het, het my ma daardie Vrydag gemaak. Noem dit maar, my ma kon dit maak,” het hy tussen die happies sagopoeding met vla, wat Tannie Annatjie opgedis het, gesê.
Die egpaar het drie kinders, Billy wat net onder die straat bly, Jannie en Hannetjie.
“Moet nie die pen neersit nie, skryf ons het sewe kleinkinders en vier pragtige agterkleinkinders,” het Tannie Annatjie gesê.
Toe hulle gepols is oor hul wenke vir ’n suksesvolle huwelik het die egpaar mekaar lank en diep in die oë gekyk en gesê: “Die Here was vir ons goed…”
