Terwyl die 18-jarige Aubrey Reyneke op Vrydag 9 Januarie behandel is nadat hy met sy motorfiets teen ’n kar gebots het, het ’n familielid die vrou wat ook in die ongeluk betrokke was se kar se venster met sy elmboog uitgeslaan.
Me. Lindiwe Lubisi het gesê sy wou vanuit OR Tambostraat regs in Poplarstraat draai toe sy sien hoe ’n aankomende motorfietsryer beheer oor sy motorfiets verloor.
“Die motorfiets het met ’n hoë spoed gery en ek het regs probeer draai om die impak van die motorfiets op my kar se voorste venster te probeer vermy. So kon ek myself en die motorfietsryer beskerm teen ’n kop aan kop botsing,” het sy vertel.
Lubisi het geskok op die toneel gestaan toe die familielid haar kar se venster na bewering uitgeslaan en haar navigasie-sisteem, in die kar, glo uitgeruk het.”
“Toe ek weer sien toe staan die man voor my, druk sy vinger in my gesig, maak rassistiese aanmerkings en vloek my verskriklik,” het Lubisi vertel.
Sy het gesê sy het sake van naamskending en beskadiging van persoonlike eiendom teen die man gaan maak.
Reyneke is in Life Kosmos Hospitaal opgeneem en het ’n vier en ’n half uur lange operasie ondergaan. Sy bobeen is gebreek en moes penne inkry. Sy gewrig was heeltemal ontwrig en gebreek. Sy enkel, tone en hand het diep snye en verder het hy baie skaafmerke opgedoen.
Hy het Dinsdag 13 Januarie gesê alhoewel hy nog baie pyn het, dit goed gaan met hom.
Oor die ongeluk het hy gesê, “Ek kan niks van die ongeluk onthou nie. Ek was blykbaar so uit soos ’n kers nadat die ongeluk plaasgevind het.”
