Local newsNews

Video: Ondersteuning vir Kansa – dis ons stories

Die hare val van haar kop en lê in hopies by haar voete.

Dis maar ’n klein prys om te betaal vir die bewusmaking van kanker… Dis maar ’n klein herinnering aan die man wie sy jare terug verloor het.
Liezel de Jonckheere was weer te sien by die Shavathon die jaar wat op Saterdag 28 Februarie plaasgevind het.
“Ja, mense kyk my soms snaaks aan sonder die hare, maar ek weet in my hart hoekom ek dit doen…” vertel Liezel.

Ses jaar gelede, in 2009, moes Liezel haar man afstaan aan kanker. “Dit was breinkanker en 19 dae na hy daarmee gediagnoseer is, is hy oorlede,” het sy kortliks gesê. Rudi is net twee maande voor hul seuntjie twee sou word oorlede.
“Dit is moeilik sonder hom… maar gelukkig het ek ons twee kinders. Hulle gee my die krag wat ek nodig het om aan te gaan,” kon Liezel getuig.

Pat Carter was ook die naweek by die Shavathon te sien, waar sy met trane in haar oë vertel het hoe kanker ook haar en haar familie se lewens geraak het.

Op die ouderdom van 22 maande, het klein Paul van der Merwe reeds die ergste van leukemia beleef. “Dit is tans in remissie,” vertel Ouma Pat. “…maar as dit terug kom, reken dokters dat hy binne twee of drie jaar kan sterf, só aggresief is dit.”
Die familie het onlangs weer hoop gekry toe hul nuus ontvang het van ’n geskikte beenmurg-skenker in Switserland.
“Sy enigste hoop is om die beenmurg oorplanting te kry,” meen Pat. “En danksy die vrou van Switserland glo ek dat hy dit sal kry en weer heeltemal gesond kan wees.”

Pat Carter het haar hare laat kleur tydens die Shavathon op Saterdag 28 Februarie.
Pat Carter het haar hare laat kleur tydens die Shavathon op Saterdag 28 Februarie.

Pat kon haar trane nie keer soos sy vertel hoe sy die trauma en hartseer eerstehands beleef het van ’n kleinkind met kanker.
“Saam met my kleinkind in die hospitaal, was daar ’n 15-jarige meisie wat ook leukemia gehad het en toe oorlede is omdat hul nie vir haar ’n geskite beenmurg-skenker kon kry nie…” Pat se stem het gebreek soos sy vertel. “…sy was maar net ’n kind…”
Uit ’n populasie van meer as 20 miljoen is daar maar net 67 000 beenmurg-skenkers in Suid-Afrika. Kanse vir ’n geskikte skenker wie se beenmurg presies ooreenstemmend moet wees met die van ’n leukemia pasiënt is baie skaars.

“Ek wil so graag net mense bewus maak van die ‘Sunflower Fund’ waarby mens kan aansluit om ’n beenmurg-skenker te word,” het Pat vertel, haar stem weer bestendig en oortuigend. “Dis nie dieselfde as om ’n orgaan te skenk nie en die bietjie beenmurg wat hul van jou kan gebruik, om iemand se lewe te red, sal jou lyf in drie dae se tyd weer terug kan produseer.”
Pat en haar familie kan getuig hoe een persoon weer soveel hoop vir hul kon bring.
’n Skenking van beenmurg… ’n skenking vir die kans van ’n nuwe lewe vir ’n jong seuntjie.

Die plaaslike kankervereniging reël jaarliks ’n Shavathon om mense bewus te maak van kanker. Almal kan ’n verskil maak deur om self betrokke te word by Kansa fondsinsameling-projekte. Besoek ook ‘Sunflower Fund’ se webtuiste vir meer inligting oor beenmurgskenkers.
“Moenie wag tot kanker iemand in jou familie raak…” het Pat ten slotte gesê. “Jy kan die verskil maak en iemand se lewe red vandag.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button