Inteendeel hulle sal dié vakansie by Pumula naby Hibberdene aan die Natalse Suidkus nooit vergeet nie, want dit was een wat in ’n nagmerrie ontaard het nadat hulle op die strand aangeval was.
“Die Here se hand was oor ons,” dit is die eerste woorde wat me. Marlene Schoeman gesê het toe sy begin vertel oor die aanval.
Die twee gesinne, pastoor Jan en me. Riana van Deventer en me. Schoeman, haar man, Johan en hul drie kinders Bianke (17), Henry (15) en Chantelle (20) het vanaf 4 April by Pumula gaan vakansie hou na ’n week by Sodwana.
“Die weer het nie saamgespeel nie, dit het elke dag gereën, maar Donderdag was net die perfekte dag om op die strand te spandeer,” het me. Schoeman vertel.
Me. Schoeman het gesê hulle het naby aan die strand gebly het en juis met hul motor tot op die strand gery het om ’n oog daaroor te hou.
Mnr. Schoeman het begin braai en omdat hul blyplek loopafstand was, het pastoor Van Deventer opgestap om pilletjies vir sy hond te gaan haal.
Me. Schoeman het die pastoor gebel en gevra om nog ’n braaipakkie saam te bring.
Die drie kinders het intussen verder die strand opgestap om te gaan visvang.
“Toe ek omdraai het ek twee jong mans opgemerk. Ek het gaan sit en toe ek opkyk toe val hulle Johan aan,” het sy met ’n skor stem gesê.
“Een het hom met ’n visstok geslaan en die ander het hom met ’n mes gesteek.”
Die vreesbevange vrou het begin gil, haar selfoon gegryp en weer pastoor Van Deventer gebel. Een van die rowers het gesien toe sy bel en beide het op haar toegesak.
“Ek is nie seker of ek gestruikel het nie, maar ek glo die Here het my uit die pad geruk sodat die mes waarmee hy my wou steek, my hart rakelings gemis het,” het me. Schoeman die voorval herleef. Sy is met die visstok in die been gesteek.
Sy het haar selfoon eenkant toe gegooi en die rowers het die selfoon en twee sakke waarin die gesinne se kameras en, karsleutels en ander persoonlike goed in was gegryp en laat spaander.
Pastoor Van Deventer het die gille gehoor, teruggehardloop en in die hardloop vir mense geskree om die buurtwag en polisie te bel.
“Johan het gesê toe hy omkyk het hy in die rower se oë gekyk en besef die man is daar om dood te maak.
Mnr. Schoeman moes 10 steke in sy ken kry. Op die plekke waar die rower na sy hart en maag gesteek het, is net krapmerke.
Die buurtwag, polisie en ambulans was binne minute op die toneel.
Pastoor Van Deventer en Henry het na die insident die area fyngekam. Henry het iemand tussen die bosse sien lê en gedink dit is ’n lyk. Toe Pastoor Van Deventer naderstap het die man opgespring en weggehardloop.
Hy het van die gesteelde goedere, waaronder karsleutels, laat val. Die kameras en selfone is egter nog steeds weg.
“Ek en Johan is Vrydag na die selfoonwinkel toe waar ek my SIM kaart moes gaan omruil. Terwyl ons besig was, het pastoor Jan en Riana saam met die kinders strand toe gegaan. En wraggies, daar het pastoor Jan weer iemand opgemerk wat baie verdag nadergekom het. Maar hy het sy vuurwapen by hom gehad en dit toe net sigbaar gemaak. Die man het omgedraai en vinnig weggestap,” het me. Schoeman gesê.
“Dit is absolute genade dat ons almal nog leef. Dit was die Here wat Sy hand oor ons gehou en ons beskerm het,” het me. Schoeman gesê.
Die polisie het later aan die gesinne gesê dat een van die rowers ’n moordverdagte in ’n nader saak is.
“Die ergste is daar was ander mense nie ver van ons af op die strand nie. Ons kon hulle sien. Terwyl ons aangeval was het hulle nie eers probeer om te kom help nie. Hulle moes my en Riana se gille hoor. Het mense hul menslikheid verloor?” het me. Schoeman gevra.
Pastoor Van Deventer is die aflospastoor by die Pinkster Protestante Kerk Lofdal-gemeente in Middelburg. Albei die gesinne bly in eMalahleni.