Verdagte fietsdief, Velile Cele, het laas week saam met talle ander diefstal-verdagtes in die hof verskyn. Laasjaar, 25 Julie 2014, was toe dié 25-jarige verdagte gevang is nadat hy glo ’n fiets uit ’n erf in die Reynorif-area probeer steel het. Mnr. Johannes Taljaard onthou nog goed die voorval en vertel hoe hy dié dag vir Cele gewaar het in sy erf. “Ek het gesien hoe hy die fiets oor die muur tel en toe ook self oorspring.”
Taljaard het onmiddellik gereageer en die buurtwag laat kontak voor hy self in sy voertuig gespring het en die verdagte agternagesit het. Taljaard vertel dat hy pas die verdagte voorgekeer het, naby Springvalley, toe die buurtwag ook op die toneel verskyn het, waarna Cele gearresteer is.
Cele se saak was weer uitgestel tot en met 5 Augustus.
Renang Seboya het op 26 Junie weer verskyn in die landdroshof op klagtes van diefstal. Die laaste saak wat teen Seboya geopen was, was in April na ’n vrou ’n gesteelde selfoon by Witbank Polisie aangemeld het.
“Ek het vinnig die dag by ’n supermark in Klipfontein gestop,” het die vrou, wie die saak aangemeld het, weer vertel.
“Ek het die kar gesluit en gehoor hoe die deur sluit, voor ek gou by die winkel in is.”
Minute later het sy teruggekeer na haar voertuig. “Ek het nog gesukkel om my sleutel uit my sak te kry en toe ek opkyk sien ek my kar se voordeur wat wawyd oop staan!”
Die vrou vertel dat net haar selfoon uit die voertuig gesteel was. “Dis eintlik snaaks, want my handsak het op die vloer van die passasierskant gelê.”
Seboya, wie later gearresteer is, word beskuldig van die diefstal en is steeds in aanhouding. Sy saak is uitgestel tot 15 Julie vir ’n volledige verslag.
Berthrand Tagba was volgende om voor die magistraat te verskyn, na hy op 15 Junie in hegtenis geneem is.. Hy was glo deur ’n lid van die SAPD gevang in die besit van ’n gesteelde selfoon.
Tagba het ’n tolk versoek en sy saak sal weer hervat word op 2 Julie.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus
Besoek ook ons Facebook of Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.
