Trane het gevloei toe mnr. Marius Pretorius vroeër die week gehoor het wat agter die skerms aangegaan het toe sy seun, Vaughan, na eMalahleni gevlieg is om sy ma te groet voor sy gesterf het.
Vaughan (13) wat in Hoedspruit op ’n Landsdienskamp was kon sy ma Retha groet voor sy Maandag 29 Junie om 02:30 die stryd teen kanker verloor het.
Die werkinge agter die projek wat ‘Flight of Mercy’ gedoop is het groot mans laat huil toe Vaughan om 21:45 op die vlerk van ’n Glass Air tweesitplek vliegtuig sy arms na een van die engele wat sy vlug gekoördineer het, me. Denise Oosthuysen gesit het. Hy is toe onder polisiebegeleiding na Life Kosmos Hospitaal geneem om Retha te gaan groet.
In Vaughan se pa, Marius se oë lê die hartseer nog rou. Terwyl hy probeer om die emosies te beheer het hy vertel hoe hy die skool moes bel nadat Retha sedert die vorige dag verswak het. Sy het amper drie en ’n half jaar teen kanker baklei.
“Ek het onderwysers op die kamp gebel om koördinate te kry. Ek wou deurry om my seun te gaan haal. Die onderwysers het my afgeraai om deur te ry en ek het gereël om Maandagoggend 04:00 deur te ry,” het Marius gesê.
Intussen het me. Sanché Oosthuysen, een van die skool se onderwysers haar pa mnr. John Oosthuysen gebel. John is op die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se komitee.
John het die drade van die storie opgetel.
“Sanché het gevra of ek kan help want hulle het ’n seuntjie wat dringend huis toe moet kom. Ek wou dadelik in my kar klim en ry maar het besef dis vinniger om te vlieg,” het John gesê.
John het om en by 19:00 oor die sektor-radio vir nog ’n lid van die GPF, mnr. Five Delport wie ’n vlieglisensie het, gevra om te help.
Ongelukkig het Five nie nagvlug gradering nie, maar nog ’n plaaslike vlieënier, Henri Westermann het die nodige nagvlug- en instrumentasie gradering om in die nag te kan vlieg.
“Five het my om 19:20 teruggebel en gesê hy het drie vliegtuie waarvan een gereed is om te vlieg,” het John vertel.
Henri was om 20:21 in die lug. Toe hy opstyg was daar wolke in die lug en die gemoedere het swaar geraak.
“Die leerders op die landsdienskamp het ’n gebedsketting begin. Hier het God gewys Hy was in beheer. Five het aan my genoem daar was verder geen wolke in die lug nie. Henri het skoon lug gehad,” het John vertel.
“In die lug het Hoedspruit vliegveld en ook die militêre vliegveld laat weet as gevolg van geen landingsligte op die aanloopbane nie kan Henri nie daar land nie. Hy het met SA Airlink in verbinding getree en hulle het gereël dat hy op Phalaborwa lughawe land.

Die noodlot wou net weer ingryp, maar drie onderwysers het besluit dat hulle Vaughan betyds op die vliegtuig sou hê. Al die skole het met busse by die kamp aangekom, net Curro Bankenveld het ’n kar en ’n bus gehad. Die drie onderwysers mnre. Johan Wolmarans en Barend Viljoen van Curro Bankenveld en Gerhard Pretorius van Laerskool Kragbron het met Vaughan deurgejaag Phalaborwa toe.
John het weer oor die radio geroep en die 62 sektore gevra om op bystand te wees ingeval beurtkrag gaan plaasvind. Die sektore is gevra om die aanloopbaan te verlig.
Intussen het John met a/o JJJ Viljoen gesels om te reël vir polisiebegeleiding om die jong seun van die vliegveld af gou by die hospitaal te kry.
“JJJ was nie aan diens nie, maar het aangetrek, aan diens gaan boek en gereël dat polisievoertuie ons vooruit ry om Vaughan ongehinderd by die hospitaal te kry,” het John gesê.
By die hospitaal het emosies die oorhand gekry en na drie en ’n half ure was Vaughan langs Retha se bed.
“Vaughan was betyds. Sy het baklei tot die einde toe, sy het vir Vaughan gewag,” het Marius vertel.
Henri het gesê dat hy moes seker maak dat Vaughan betyds was. “Ek het onlangs my beste vriend verloor en sy familie kon nie groet nie. Ek wou seker maak Vaughan kan ‘goodbye’ sê.”
Retha se gedenksdiens was Vrydag 3 Julie gehou.
“Ek is besig om die kissie vir haar as te maak, dis wat sy wou hê,” het Marius saggies gesê.
Vir die Pretorius-gesin lê daar nog ’n hartseer pad voor, maar die wete dat daar mense in eMalahleni is wat omgee nestel ook in hul harte.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus
Besoek ook ons Facebook of Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.
