Tragedie
Boodskappe van bemoediging stroom in na die dood van ’n motorfietsryer die afgelope naweek.

Boodskappe van bemoediging stroom in na die dood van ’n motorfietsryer die afgelope naweek.
Mnr. Christoff Anderson (34) is Sondag 9 Augustus in Life Kosmos Hospitaal aan sy beserings dood na ’n ongeluk waarin hy betrokke was.
Die ongeluk het omstreeks 09:50 op die hoek van OR Tambo- en Mandelastraat gebeur.

Die oorblyfsels van Christoff Anderson se Yamaha R1.
Mnr. Barry Bartlett, die bestuurder van die GWM bakkie wat Anderson getref het, het op die toneel gesê die verkeerslig was groen en terwyl hy regs in Mandelastraat ingedraai het, het die lig oranje geword.
“Die laaste ding wat ek onthou is die wit poeier van die lugsakke wat ontplooi het. Ek het nie die motorfiets gesien nie,” het hy gesê.
’n Ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly, het gesê dié ongeluk het in ’n oogwink gebeur.
Sy het gesê sy het gesien die pyltjie was nog oranje toe Bartlett regs gedraai het.
“Die motorfietsryer het van Hoëveldpark se kant afgekom en die bakkie getref.”

Die GWM bakkie wat Sondag 8 Augustus ook in die ongeluk betrokke was.
Die ongeluk is ook diep in mnr. Koos Taljaard se geheue ingekerf. Hy was in Mandelastraat by die verkeerslig toe die ongeluk reg voor hom plaasgevind het.
“Dit is verskriklik hartseer. Vir albei, die bakkie bestuurder en die motorfietsryer, is hierdie ’n tragedie,” het hy gesê.
Hy het ook gesê Bartlett was besig om regs te draai toe Anderson hom getref het.
“Met die inpak van die ongeluk is die motorfietsryer in die lug geslinger en het hy bo op die bakkie te lande gekom. Die bestuurder van die bakkie het die bakkie onder beheer gehou, om die draai gegaan en tot stilstand gekom.
Vir die motorfietsgemeenskap van eMalahleni is Anderson se dood nog onwerklik.“
’n Klomp motorfietsryers het Saterdag 8 Augustus by ’n plaaslike kroeg saamgetrek vir ’n rustige kuiertjie. Christoff, by ons bekend as Krappie het kom hallo sê. Dit was so ’n lekker naweek saam met vriende wat op ’n tragiese noot geëindig het. ‘Helmets down’, een van ons broers is dood,” het Norman Griffiths van die Private Riders gesê.
“Ek wil graag vir die familie sê sterkte, ek hou julle in my gebede,” het Bartlett gesê.
Die seer is nog te groot vir die familie om oor die ongeluk te praat. Anderson se ma, me. Hester Anderson het ’n spesiale boodskap aan me. Marlize Viljoen, haar seun se verloofde, “Baie dankie vir jou bystand en hulp met my kind se ongeluk. Ons waardeer dit baie. Almal wat gehelp het baie, baie dankie. Die seer is groot en ons mis hom klaar maar glo dat hy veilig by Jesus rus.”
Sy begrafnis vind Vrydag 14 Augustus om 14:00 vanuit die NG Kerk Vallei-gemeente plaas.
Die ondersoekbeampte, sers. Marius Etsebeth het gesê die ondersoek is reeds aan die gang en vra dat ooggetuies hom moet skakel: 084 499 8041.
