
Mnr. Sipho Sibiya was die slagoffer van ’n gewapende roof waarin sy kar, asook geld gesteel is.
Op Saterdag, 8 Augustus, omstreeks 21:00 het drie onbekende mans in ’n kar agter Sibiya gery. Hulle het hom gestop en beveel om op die agter sitplek te gaan lê. Twee mans het in sy kar geklim met hom steeds op die agtersitplek en die derde verdagte het met die ander kar weggery.
“Hulle het my gevra vir my beursie terwyl ons gery het, wat vir my gelyk het soos die middel van nêrens. Ek het dit vir hulle gegee, asook die pin kode vir my bankrekening, toe hulle daarvoor gevra het,” het Sibiya vertel.
Hulle het hom na bewering vasgemaak met ’n kabel wat in sy kar was en hy moes saam met hulle na die naaste vulstasie toe gaan waar ’n Automatiese Teller Masjien (ATM) beskikbaar was om te kon geld trek. “Hulle het al die geld wat in my rekening was, uitgetrek,” het Sibiya verontwaardig vertel.
“Hulle het teruggegaan na ’n onbekende plek en vir baie lank rondgery. As ek moet skat is dit ongeveer vyf tot ses ure wat ons rondgery het. Ek was in die kar se kattebak so kon niks sien nie,” het hy verder vertel. “Ek het so frustreerd geraak omdat ek so lank in die kattebak was, dat ek naderhand die kattebak begin skop het, en ek het geskree dat ek in pyn is.”
Ongeveer 03:00 op Sondag, 9 Augustus het hulle die kar in die veld gestop en hom uit die kattebak gelaat.
Die rowers het die kar gestop en vir Sibiya aan die naaste boom vasgemaak, met dieselfde kabel waarmee sy hande vasgemaak was. Hulle het na bewering ook ’n lap in sy mond gesit dat hy glad nie kon praat of skree nie.
Nadat die rowers hom alleen gelos het aan die boom, het hy los gekom en om hulp gaan soek deur die strate van Old Coronation.
“Ek het aan twee deure geklop waar ek geen hulp ontvang het nie,” het Sibiya vertel. “Na ’n paar onsuksesvolle pogings om hulp te soek, het iemand aan wie se deur ek geklop het my gehelp en ons het na die naaste polisiestasie gegaan vir ’n verklaring,” was Sibiya se woorde ten slotte.
Daar is ’n saak van diefstal oopgemaak by die polisie in eMalahleni vir verdere ondersoek.
