
’n Besigheid voel die knyp van vervalste geld.
By ’n winkel in die Klipfontein-area het die eienaar die naweek se geld Maandag, 17 Augustus, getel voor dit bank toe gegaan het.
“Ek het gevoel die geld voel bietjie anders toe ek dit tel, maar nie besef dat dit vals geld is nie. My man het nogal vir my gesê dat dit net nuwe note is, toe ek dit aan hom noem,” was die woorde van Lorraine Cronjè, slagoffer van hierdie bedrogspul.
R1800 was die skade van een naweek se vals geld wat onbewustelik aanvaar is.
Nadat die geld bank toe is het haar man met ’n bedrag geld teruggekom en vir haar gesê dat daar vals note tussen die ander geld was. Maar die enigste note wat wel vervals was, was die R200-note.
Die verskille tussen ’n regte R200-noot en die vals noot is nie maklik met die oog sigbaar nie, behalwe as jy na die spesifieke verskille gaan kyk.
“Ek het my personeel nou ingelig en mooi gewys hoe om die verskil te sien,” het Cronjè bygevoeg.
Sommige van die verskille wat opgetel is tussen die twee verskillende note is dat wanneer die geld gefrommel word, dit papier wit lyne maak, waar die regte note dit nie doen nie. Die watermerk is ook net die gedeelte van ’n gesig. Die blink lyne wat in die middel afloop blink minder en die 200 regs onder in die hoek is ook effens ’n ander kleur. Die tekstuur van die geld voel anders, dit voel effens gladder.
Hierdie verskille kan vergelyk en dan opgelet word. Die beste manier om te kyk of geld wel vervals is, is steeds makliker by die watermark sigbaar. Die halwe gesig is ’n duidelike teken en ook ’n uitstaande kenmerk.
Cronjè het die vals geld teen die muur vasgeplak in die bewusmaking van hierdie bedrogspul. Unieke nommers verskyn ook aan die agterkant van elke nommers. Dit bestaan uit letters asook nommers. Die vertikale nommer aan die linkerkant, groei in gewig van links na regs. Op vals note was hierdie unieke nommers dieselfde maar weereens, dit is nie kenmerkend nie, aangesien elke noot nie vergelyk word wanneer dit aanvaar word van kliënte nie.
“Ek wil net die mense waarsku dat hierdie vals geld weer sy rondte in eMalahleni doen,” het Cronjè gesê.
