Slaggat herstel projek van stapel gestuur
Slaggate is vir elke motoris in die stad ’n groot kopseer, almal word daardeur geraak.

Slaggate is vir elke motoris in die stad ’n groot kopseer, almal word daardeur geraak.
Dit is ook so dat die munisipaliteit nie oor die nodige fondse en mannekrag beskik om herstelwerk te doen nie.
’n Slaggat herstelprojek deur die gemeenskap het verlede week begin, met die oogmerk om verskeie paaie in die stad te herstel.
Die projek word deur besighede en inwoners befonds en in samewerking met die munisipaliteit wat die teer voorsien en ’n onafhanklike kontrakteur gedoen.
Die eerste straat, Jeanettestraat in Del Judor is reeds op Dinsdag 1 September herstel.
“Verskeie besighede in die omgewing het almal ’n finansiële bydrae gemaak, want hulle almal en hul kliënte maak gebruik van die pad op ’n daaglikse basis,” het mnr. Martin Engelbrecht, koördineerder van die projek gesê.
Hy is verder van mening dat die projek ’n sukses kan wees as elkeen wat deur slaggate in hul onmiddelikke omgewing geraak word, betrokke raak deur ’n finansiële bydrae te maak.
“Ons as belastingbetalers voel almal dat ons mos betaal vir die herstel van paaie, maar ons weet dat dit nie op dié stadium gaan gebeur nie en as ons almal die houding het van terugsit en wag tot iets gebeur, gaan ons lank wag. Dis nou tyd om hand uit te steek en self iets aan die al groterwordende probleem te doen,” het Engelbrecht gesê.
Indien u betrokke wil raak by die projek, kan u skakel met mnr. Theo Labuschagne by 082 950 0142 vir meer inligting.
*Groot dank aan die volgende besighede/persone wat bydraes gemaak het vir die herstel van Jeanettestraat:
Rails It, 4F Concepts, Reynos Electrical, Finishing Touch, Klawer Flyt, Top Carpets, Da Soapy Shop, Hair by Jacques, Dr. Paul Parsons, Cameratron, Itec, Henlon Motors, Habitat Outdoor Designs, Effective Auto Glass, Burger Buurman, Meat & Fish, Gas Boys, Dariette Sauls, Property.co.za, GAP, Big Boy, G4S, Oorinstituut, Dr. J. Struwig, Cashbuild, Lorent, Valet World.
