Motorfiets eis voetganger se lewe
’n Motorfietsryer het ’n bloedspoor agtergelaat toe hy Sondag ’n voetganger getref het.

’n Motorfietsryer het ’n bloedspoor agtergelaat toe hy Sondag ’n voetganger getref het.
Die 27-jarige mnr. Jaco Grobler en sy vriend, mnr. Gernau Barnard was net so voor 19:00 op 13 September oppad na Grobler se huis toe op hulle motorfietse toe die twee van Tshwane Universiteit se kant af gekom het in OR Tambostraat.
“Ek het seker so tussen 20 tot 30 meter agter Grobler gery en net na daardie groot advertensiebord wat oor die pad is sien ek ’n stofwolk en eweskielik vir Grobler wat trek in die lug.” het Barnard gesê.
Na bewering het die voetganger ’n kans gevat en oor die pad gehardloop en is toe raakgery deur Grobler. Die identiteit van die voetganger is onbekend.
Barnard het ook bygevoeg;
“Vir eers kon ek nie verstaan het hoe Jaco beheer oor sy motorfiets verloor het nie, net om te sien dat hy ’n man getref het. Ek het dadelik na hom toe gehardloop.”
Die oranje en swart CBR 1000cc Repsol van Grobler het na bewering ’n ent van hom gelê op die teenoorgestelde kant van waar hy die voetganger getref het.
“Jaco het in die pad gelê en sy motorfiets het baie ver van hom af gelê. Jaco was nog by sy volle bewussyn toe daar kom. Ek het hom toe gevra of hy oraait is en toe dadelik sy ouers gekontak,” het Barnard gesê.
Met aankoms van die polisie en paramedici is die voetganger dood verklaar en Grobler gestabiliseer en na Life Kosmos Hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.
Grobler is steeds in die hospitaal en het erge beserings op sy regterarm opgedoen maar is geopereer en wag tot hy stabiel is om onslaan te word.
“Wat ek weet is dat Jaco sy arm bo die elmboog gebreek het en ook ’n been in sy regterhand, maar ek dink daar word nog ondersoek of hy enige inwendige beserings opgedoen het, maar ek weet nie want ek het gesien toe hy hospitaal toe gevat is dat daar bloed uit sy mond gekom het,” het Barnard bygelas.
“Jaco ons dink aan jou . Hoop jy het ’n spoedige herstel . Mag die operasie ’n sukses wees. Sterkte my vriend,” het Helen Rossouw op Grobler se Facebookblad geskryf.
Daar het ook boodskappe ingestroom op sosiale kanale van verskeie mense wat simpatie toon aan die voetganger se familie en naasbestaandes.
Die polisie is tans besig om die ongeluk te ondersoek.
