
Die Steenkoolstad het ’n slegte indruk op ’n besoeker gelaat.
Vir me. Elichia van Schalkwyk was Vrydag, 11 September ’n dag wat as ongeluk in haar geheue ingekerf is.
Omstreeks 11:00 Vrydag is Van Schalkwyk voor die landdroskantoor beroof.
“Ek het verdwaal en het voor die landdroskantoor testaan gekom. Ek was oppad na my ouditeur toe,” het sy die gebeure herroep.
Sy is oorspronklik van Secunda en is glad nie bekend met die area nie. Sy was ook nie bewus van die hoë misdaadsyfer in die onderdorp nie.
“Ek weet nie of hulle my gesteek het met ’n mes nie en of dit die juwele was wat my gesny het nie, maar my nek en my hande was vol bloed.”
Van Schalkwyk beweer dat sy by die polisiestasie aangekom het en die beampte agter die toonbank het haar gevra hoekom sy nie eerste dokter toe gegaan het nie.
“Ek was in soveel skok oor my juwele, dat ek net aan een plek gedink het. Die polisiestasie,” het sy gesê. “Hulle het al my juwele gesteel wat ek aangehad het. My ouma se ring was ook aan my vinger,” het Van Schalkwyk bygevoeg.
Sy het gesê dat sy juis besluit het om daar te stop, aangesien sy gedink het dit redelik veilig is om te bel vir aanwysings.
“Daar is tog gewoonlik polisie en redelik baie mense. Ek het nie gedink hulle sal my daar beroof nie,” het Van Schalkwyk met skok vertel.
Mnr. Robert Furby van Witbank 911 het gesien wat gebeur het en ook ’n prokureur, mnr. Rynhardt Slabbert.
“Ons het buite gestaan want ek moes in die hof gewees het om te getuig,” het Furby vertel. “Ons het gehoor hoe iemand die petrol verskriklik trap en twee mans wat gebukkend staan, half in die kar,” het hy bygevoeg. “Die vrou het twee mans uit die kar probeer stoot en aangesien haar voet nog die heeltyd op die koppelaar was en haar kar in rat, het sy met die gestoei die koppelaar gelos. Haar kar het met mening vorentoe geskiet en sy het ’n ander kar van agter af gestamp.” Furby het gesê dat hulle die een dief uit die kar getrek het, dit is toe dat die ander een weghardloop met Van Schalkwyk se juwele. “Ek het die een van die skelms agterna gesit en hom gevang. Maar die bystanders het vir my gesê ek is ’n rassis en het my begin skop. Die skelm het nog die hangertjie in sy hand gehad. Hoe meer ek vir hulle probeer verduidelik het dat hy die vrou besteel het, hoe meer het hulle my geskop en aanmerkings gemaak. Ek het nie ’n ander keuse gehad as om hom te laat gaan nie,” het Furby vertel.
Furby het vir Van Schalkwyk gesê dat sy maar moet ry, aangesien sy so aan skok gely het en dat sy by die dokter kon uitkom vir haar wonde. Hy het ook vir haar gesê om dadelik polisiestasie toe te gaan.
Furby het ook gesê dat sy ’n hou moes ingekry het, want haar kneukels was blou.
“Ek wil graag net die mense vra om nie juwele aan te sit as hulle onderdorp toe gaan nie. Dit is uiters gevaarlik en Van Schalkwyk kan net dankbaar wees dat hulle haar nie meer skade aangedoen het nie, aangesien hierdie diewe gewoonlik met groot messe rondloop,” het Furby gesê
“Ek bied ’n beloning van R10 000 aan vir die persoon wat my juwele miskien koop of iewers kry,” het Van Schalkwyk gesê, aangesien hierdie baie waardevolle juwele is.
