Familie raadop oor teistering
“Ek ken die reuk van vars spuitverf al. Ek weet al wat om te verwag as ek by die huis kom."

’n Egpaar van Ogies leef in vrees nadat die soveelste vulgêre boodskap teen hul mure gespuitverf is.
Die woorde ‘alone die’ ‘icu’ ‘You smell nice, burn down house, it is not over yet’ word al vanaf Junie op hul mure gespuitverf.
As dit nie op die agterdeur is nie, word dit in hul motorhuis teen die mure en selfs hul motorfiets gespuitverf.
“Dit het ’n impak op ons as familie. Ons is té bang om weg of selfs net in ons erf te sit en kuier, want iemand hou ons dop,” het me. Aqualine Steinhobel gesê.
Steinhobel, wat ’n nuwe mamma is, sê haar seuntjie se veiligheid is vir haar van die grootste belang. Sy is vreesbevange nadat die persoon of persone ’n boodskap gespuitverf het waarin hulle sê hulle gaan haar seuntjie doodmaak.
Terwyl sy onlangs besig as om wasgoed op te hang, het iemand haar met ’n baksteen teen die kop gegooi.
“Die baksteen het van nêrens afgekom nie. Ek moes gaan vir x-strale wat gewys het my skedel is gekraak,” het Aqualine vertel.
Saterdag het nog boodskappe teen hul motorhuis se muur verskyn, en nes die ander is dit vulgêr en persoonlik op die familie gerig.

So lyk die boodskappe waarmee ’n familie in Ogies geteister word.
“Ons het Saterdag by die huis aangekom nadat ons Vrydag nie by die huis geslaap het nie. Ek het dadelik opgemerk die motorhuis se slot is oopgebreek. Ek het sommer geweet dis weer sulke tyd. Die boodskappe is op die muur en my man, TJ, se motorfiets gespuitverf.”
“Ek ken die reuk van vars spuitverf al. Ek weet al wat om te verwag as ek by die huis kom. Dis al so erg dat ek dit haat as TJ nagskof werk. Ek het al verleer om te slaap en as jy slaap in jou sintuie so ingespan dat jy elke liewe geluidjie hoor.”
Die egpaar het reeds ’n saak by die polisie gaan maak, maar Steinhobel is nie seker hoe ver die polisie se ondersoek is nie.
Ogies SAPD se kommunikasiebeampte sers. Monica Siamela het nie op boodskappe van WITBANK NUUS gereageer nie, dus is dit nog onbekend hoe ver die ondersoek is en of daar enige verdagtes is.
