Nog ‘onwettige’ loseerders in Pioneerstraat
“Al wie hier bly is my dogter. Sy bly in ons woonstel wat op ons erf is. Hierdie woonstel was al op my erf vandat ons die huis gekoop het."

Na ’n artikel verlede week oor ’n inwoner wat ’n hofbevel ontvang het rakende onwettige loseerders in sy erf, wat nie so is nie, het nog ’n persoon gesê dat hulle dieselfde oorgekom het.
Mnr. William en mev. Rosemary Koch het ook op Maandag, 14 September ’n hofbevel ontvang dat hulle in die hof moet verskyn weens onwettige loseerders op hul erf. Die klerk van die hof het hierdie brief op 27 Julie gestempel. Mnr. Theo van Vuuren, waarnemende munisipale bestuurder het ook hierdie papiere geteken wat onder eed bevestig dat daar wel onwettige loseerders op die Koch’s se erf is.
In hierdie brief wat Maandag ontvang is, stel dit aan hulle dat hulle op Vrydag, 11 September in die hof moes verskyn. Die brief is drie dae te laat ontvang.
“Sover my kennis strek moet ’n mens teken wanneer so iets by jou huis afgelewer word. Ek was in die dorp en het die brief in my hek gekry toe ek terugkom by die huis,” het mnr. Koch gesê.
Volgens hierdie brief stel mnr. Van Vuuren ook dat mnr. Sipho Serepo die huis op 6 Maart besoek het en wel vasgestel het dat daar loseerders was.
“Al wie hier bly is my dogter. Sy bly in ons woonstel wat op ons erf is. Hierdie woonstel was al op my erf vandat ons die huis gekoop het. Daar is nie ’n manier wat hierdie die rede kan wees vir die brief nie. Ons gaan slaap al 20:30 in die aand en pla absoluut niemand,” het mnr. Koch ontstoke vertel.
“Nadat ek die eerste brief ontvang het, het ek vir mnr. Van Vuuren ’n boodskap gestuur waarin ek vir hom gevra het wat ek omtrent die saak moet doen. Me. Melissa Minnaar het my daarna ingelig dat ek ’n verklaring by die polisie moet gaan aflê. Ek het dit gedoen en dit saam met die brief na die munisipaliteit toe gevat. Daarna het ek niks weer verder gehoor nie,” het mnr. Koch vertel.
Mnr. Koch is al sedert 1991 by die huis weens slegte gesondheid.
“My man is nie in staat om op enige vlak opgewerk en ontstel te word nie, hy is nie gesond nie en ek kan nie verstaan hoekom ons hierdie brief ontvang het nie,” het me. Koch met bekommernis vertel.
Die Koch’s woon al 30 jaar in hierdie huis. Hulle het nog nooit eers ’n steen aangebou nie. Hulle het wel ’n houthuisie en ook ’n sinkhuisie wat hulle self laat opsit het, agter in hul erf.
“Dit word slegs gebruik vir stoorplek, aangesien my erf nie soos ’n varkhok kan lyk nie,” het mnr. Koch verder vertel.
Aangesien hul dogter in hul erf bly, word gedeelte van haar meubels ook in die houthuisie gestoor.
“Daar is nie genoeg plek in haar woonstel vir al haar goedjies nie, daarom het ons besluit om die huisie op te sit,” het me. Koch gesê.
Die hofbevel van die huis in Ingrid Jonkerstraat in verlede week se WITBANK NUUS, ‘Inwoners baklei teen sinkhuis-aantuigings’, het mnr. en me. Hattingh op Donderdag 17 September ’n brief ontvang van die munisipaliteit wat aandui dat daar geen saak in die hof sal wees op Vrydag, 18 September nie.
“Ek het aangehou vra totdat die brief Donderdagmiddag laat by my ouers se huis afgelewer is,” het hul dogter, wat eerder anoniem wil bly, vertel. “Ons hoop nou maar net dit is die einde van al hierdie probleme,” het sy bygevoeg.
Teen druktyd was daar steeds geen terugvoer van mnr. Van Vuuren af nie.
