‘Goodbye pappa’
Vir ’n oomblik het dit gelyk asof hy besef dat hy sy pappa nooit weer gaan sien nie.

Mallan Venter moes op sy toontjies staan en rek. Begrafnisgangers het stil geword toe hy oor sy pappa se kis vryf, ’n laaste groet. Vir ’n oomblik het dit gelyk asof hy besef dat hy sy pappa nooit weer gaan sien nie.
Die tweejarige seuntjie se pappa, Antonie Venter (27) en die se vriend Heinrich Janse van Rensburg (34) het op 10 Oktober verongeluk.

Antonie Venter se roudiens het op 16 Oktober plaasgevind. Sy ma, me Liza Janse van Vuuren en sy vrou, Chantal Venter dra die voorkant van sy kis.

Mallan Venter (2) groet sy pa, Antonie Venter, vir die laaste keer.
Die ongeluk het op die N4 snelweg by die Valtaki/Witfontein-afrit plaasgevind.
Inligting wat intussen aan die lig gekom het, dui daarop dat Antonie en Heinrich in mekaar vasgery het.
’n Ooggetuie mnr. Michael Metsana het gesê die ongeluk speel oor en oor in sy gedagtes af.
Hy was die bestuurder van die Audi wat deur die Metro Polisie by die spoedlokval, waar die ongeluk gebeur het, afgetrek was.
“Hulle het my en ook die bestuurder van ’n wit BMW afgetrek. Ek was aan die regterkant en die BMW was die linkerkant afgetrek,” het Metsana gesê.
Hy was op pad na ’n funksie in Middelburg.
Hy het gesê hy en die bestuurder van die BMW was ongeveer dieselfde tyd reg om weer in hul onderskeie bane in te val toe die bestuurder van die blou Polo aangery gekom het.

Heinrich Janse van Rensburg (34) is op 15 Oktober begrawe.
“Sy was agter die BMW en het na die regterbaan toe beweeg om te verhoed dat sy agter die kar vasry. Ek het die motorfietse gehoor aankom. Hulle het vinnig gery en toe die een motorfietsryer agter die Polo was, het hy sy motorfiets se toeretal verhoog (ge-rev) om die bestuurder van die Polo se aandag te trek.”
Metsana het gesê die bestuurder van die Polo het terug in die linkerbaan ingery.
“Die motorfiets in die linkerbaan het die Polo heel links in die geelstreep verbygegaan en toe hy die kar verbygesteek het, het hy in die regterbaan ingedraai en die twee motorfietse het gebots.”
Metsana het genoem daar was geen skade aan die Polo se buffer nie, alhoewel die kar se linker agterwiel pap was.
Gerugte wat die rondte doen dat die Polo se wiel deur die metropolisie omgeruil is en die bestuurder die toneel verlaat het, is die nek ingeslaan.
Mnr. Salim Mkhonza het oomblikke na die ongeluk op die toneel aangekom en hy en nog ’n man het die bestuurder van die Polo gehelp om haar wiel om te ruil.
“Toe ek oor die bultjie kom, was dit net chaos. Motorfietsstukke het die wêreld vol gelê. Dit was oomblikke nadat die ongeluk gebeur het,” het Mkhonza gesê.
Die snelweg in die rigting van eMalahleni was vir ses ure lank gesluit om die toneel op te ruim.
Die twee motorfietsryers se begrafnisse het onderskeidelik op 15 en 16 Oktober plaasgevind.
In ’n roerende boodskap tydens Heinrich se begrafnis het Chris Redelinghuys wat die diens gelei het, ’n blom aan Heinrich se verloofde Naomi Swart en Chantal Venter, Antonie se vrou gegee.
Hy het in sy boodskap gesê God het Antonie en Heinrich se tapisserieë voltooi en die mooiste prentjie klaargemaak.
Die polisie in Brinkhorstspruit is nog steeds besig on die ongeluk te ondersoek.
Daar is tot dusver nog geen terugvoer van die Metro Polisie af nie.
Snr. Supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie het onderneem om die saak te ondersoek en terugvoer te gee.
Kyk die video van die begrafnis HIER
