Nuwe avonture verwarm die gemoed
Die land is op sy kop gedraai en almal voel die hongerpyne aan die broekspante knaag.

Die land is op sy kop gedraai en almal voel die hongerpyne aan die broekspante knaag.
Vandat Highveld Steel begin het met sy produksie-foefie, het almal in die Steenkoolstad die ‘punch’ begin voel. Aangesien salarisse met ’n fenomenale bedrag gesny is, moet almal die broeke stywer begin vasmaak.
Soos helfte van die werknemers op Highveld Steel in die ‘Y’ groep beland het, het die salarisse ook in die gat geval en so ook standaarde en lewenswyse.
In ’n soektog na ’n nuwe en goedkoper plekkie, het ons op ‘die plaas’ afgekom. Krieke sing koortjies van gelukkiger dae elke aand terwyl voëltjies deur die dag ou broodjies kom oppik wat ’n twee-jarige seuntjie met baie opgewondenheid deur die draad gegooi het.
“Kom eet voëltjies,” het hy hulle gelok en sy op en af spronge het sy kinderlike opgewondenheid beklemtoon. Soos die voëls kom land het vir ’n stukkie brood, het gille die vlaktes laat ophelder soos hierdie seuntjie se emosies die beste van hom gekry het.
Die plaas laat jou vergeet van die stadslawaai en die donker wolk wat soos ’n lappieskombers hang. Dit is ’n beter plek, om nie die karre te hoor wat in OR Tambostraat aangejaag kom en jy sit en wag vir die volgende slag of oproep wat weereens iemand se lewe geëis het. En of iemand op hul verjaarsdag in die hospitaal gaan beland het as gevolg van ’n motoris wat dink hierdie pad is ’n kayalami- baan.
Die plaas laat jou vergeet van die ‘dorpsdinge’ en maak jou gemoed weer rein wanneer jy die grondpad aandurf na jou nuwe huisie.
Wanneer dit in die verte verskyn en kindervoetjies hardloop na jou met uitgestrekte armpies, verbeter dit elke struikelblok waaroor jy getuimel het in die afgelope nege ure.
