Ma en seun vertel van hel
In ’n klein woonstel in Ga-Nala het ’n ma en haar seun die afgelope naweek hul harte oopgemaak.

In ’n klein woonstel in Ga-Nala het ’n ma en haar seun die afgelope naweek hul harte oopgemaak.
Me. Petro Holloway en die 25-jarige Vicro Fourie het styf langs mekaar op ’n bank gesit en mekaar woordeloos onderskraag, terwyl hulle hul harte uitgestort het oor die nagmerrie wat die afgelope drie maande die hoofrol in hul lewens gespeel het.
Fourie het twee maande saam met ’n vriend in Bethal gevangenis deurgebring terwyl ’n klag van poging tot moord en besit van dwelms teen hulle ondersoek is.
Die saak is intussen voorlopig teruggetrek.
Fourie en sy vriend, wat anoniem gehou word, is op Vrydag 15 April gearresteer nadat die 15-jarige Adriaan Keyter in Witbank Hospitaal se Intensiewe-sorgeenheid beland het. Hy het glo ’n oordosis heroïne gespuit.
Adriaan het ’n week in die hospitaal deurgebring en kan vandag niks van die voorval, wat amper sy lewe geëis het, onthou nie.
Dis waar Fourie die leë gapings van daardie dag se gebeure ingevul het.
“Adriaan het my die vorige aand gebel en gesê hy het ’n selfoon om af te sit. In ons taal beteken dit iets om te verkoop vir dwelms.”
w
Me. Petro Holloway en haar seun Vicro Fourie.
Fourie het gesê hy en sy vriend is die volgende oggend vroeg na Adriaan toe en is deur die seun se ma ingenooi.
Vandaar is hulle na ’n dwelmhandelaar toe waar hulle blykbaar vyf sakkies heroïne vir die selfoon gekry het.
“Ek het vir Adriaan gesê hy moenie spuit nie, hy moet nie ‘overdose’ nie. Eers toe ons ’n entjie verder was het Adriaan se bene onder hom ingegee en het ek en my vriend besef ons moet hom by sy huis kry.”
Fourie en sy vriend is kort daarna gearresteer vir poging tot moord en besit van dwelms.
Holloway kon haar trane nie keer nie.
“My seun se naam moet skoon. Ons is gestenig en weer gestenig, maar niemand wil hoor wat daardie dag regtig gebeur het nie. Vicro het Adriaan nie gedwing om te spuit nie,” het sy gesê.
Soos enige ma baklei sy vir haar seun.
“Ek het saggies gehuil en agter emosies weggeraak. Dit was eensaam in hierdie donker gange maar die liefde wat ek vir my seun in my hart dra, dit het my deurgetrek en natuurlik God se genade.”
Fourie wou nie regtig uitbrei oor die twee maande in die selle nie. Hy het wel laat glip dat dit hel was,
“Niemand hoort daar nie ….”
Holloway het gesê dit breek haar wanneer Fourie so nou en dan vertel van wat in die tronk aangaan.
“Ek het Adriaan se ma by een van die hofverrigtinge gesien en vir haar gesê ek is bly Adriaan is orraait. Ek is regtig so dankbaar haar seun leef, intussen word my seun stukkie vir stukkie afgebreek….”
Fourie het erken dat hy dwelms gebruik het en gesê dis so maklik om dwelms in dié Hoëveldse dorpie in die hande te kry.
“Ek is nou twee maande skoon,” het hy genoem en in dieselfde asem gesê sy vriend is vroeër die week in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem.
Die baklei wat die ma en seun saam baklei is nog ver van klaar af. Hulle albei weet dat dié insident hulle nog vir ’n lang tyd soos ’n skaduwee sal agtervolg.
Op die bedkassie langs Holloway se bed lê ’n Bybel – dis waaruit sy elke dag moed tap,
“God sê dit mos in die Bybel Hy sal ons nie weggooi nie, hoekom sal Hy my en my seun dan vergeet?”
LEES OOK:
Dwelms eis nog twee slagoffers
15-jarige kry oordosis heroïne in: Twee wat help inspuit se borg geweier
