Local newsNewsSchools

Niemand gaan dié matriekafskeid vergeet nie

Die klas van 2016 van Hoërskool Kriel sal vanjaar se matriekafskeid vir altyd onthou.

Die klas van 2016 van Hoërskool Kriel sal vanjaar se matriekafskeid vir altyd onthou.
Daar was Vrydag 26 Augustus groot konsternasie met die pragtige Rozaan Pienaar en Marco de Lange se aankoms by die matriekafskeid.

In plaas daarvan dat hul wit koets deur ’n swart perd getrek is, moes die pa’s en oupas, mnre. Gawie Mong, Johan Pienaar, Martiens de Lange en Willem Steenkamp inspring en die paartjie tot by die rooi mat trek.
Dit moes noodgedwonge gedoen word omdat ’n ongelukkie net voor Hoërskool Kriel tot gevolg gehad het dat die koetsier in die hospitaal beland het.

ze356-1rs
Die plan was dat Rozaan Pienaar en Marco de Lange Vrydag 26 Augustus in dié koets by vanjaar se matriekafskeid van Hoërskool Kriel sou opdaag.

Marnus du Toit het vertel dat hy die paartjie veilig by die plaaslike hoërskool moes kry.
Hy was opgetof, Bismarck sy hings was al te pronkerig en die spierwit koets het die prentjie al te pragtig afgerond.

“Bismarck het homself goed gedra, maar net so voor die plek het ’n kar langs ons ingekom en die bestuurder het die toeter geblaas. Alles het in ’n oogwink gebeur, want die volgende oomblik toe kom ’n kar van voor af en druk voor Bismarck in. Hy het geskrik en vorentoe gebeur. Met die toe breek die koets se brieke en daar gaan ons,” het Marnus vertel.

Bismarck het net een doel voor oë gehad en dit was om so ver moontlik van al die geraas en geharwar te kom. Hy het die korste pad gekies en tussen ’n boom en ’n staal vullishouer deurgehardloop. Maar die perdekar was net té groot om deur dieselfde opening te gaan. Die perd kies toe hasepad en die perdekar bly agter.

ze356-2rs</a
So het Rozaan Pienaar en Marco de Lange by Hoërskool Kriel se matriekafskeid opgedaag wat Vrydag 26 Augustus plaasgevind het.

Met die impak is Marnus vorentoe teen die staal vullishouer gegooi.
Marnus is na Hydromed Trichardt toe gejaag waar hy steke gekry het.

ze356-3rs1
Die koetsier, Marnus du Toit, moes steke kry nadat hy Vrydag 26 Augustus teen ’n staal vullishouer geslinger is.

Bismarck is ongedeerd teruggekry en wei nou rustig op die plot, heeltemal onbewus van al die drama.
Rozaan se ma, me. Brenda Pienaar het vertel hulle was ’n entjie vooruit toe haar vriendin sê, “hier kom die perd.’

“Dit was onmoontlik, maar toe ek omdraai toe sien en die perd en geen koets nie. Ons het in die bakkie ingespring en die perd gaan haal. Ek het op daardie stadium nie geweet wat aangaan nie,” het me. Pienaar vertel.

Marnus is ’n ervare ruiter wat al 18 jaar lank perdry.

“Ek is net dankbaar niemand is ernstig beseer nie en Bismarck is ok. Ek is darem vir ’n week afgeboek,” het hy gesê.

Rozaan, Marco en hul vriende sal dié matriekafskeid nooit vergeet nie.
Die matrieks het by die skool bymekaargekom en is vandaar na Summer Place in Boksburg vervoer waar hulle die afskeid terdeë geniet het.

Rozaan het gesê ten spyte van die seer spiere en skok het sy en Marco dit tog reggekry om ’n paar draaie op die dansvloer te gooi.

LEES OOK:
Seuns beseer in bootongeluk
Gebede vir Morné

Back to top button